Wie weet waar is Babatjie die papegaai?
VANDERBIJLPARK. - Net soos geskeide ouers wat naweke uitsien om tyd saam met hul kinders te spandeer, so het Johanna Swanepoel naweke uitgesien om tyd saam met Babatjie (‘n wit papegaai/kaketoe) te spandeer.
Sy en haar voormalige kêrel se liefdesverhouding het sowat vyf jaar gelede doodgeloop, maar hulle was steeds vriende en Johanna het dus steeds baie tyd saam met Babatjie spandeer. Hy was vir 9 jaar deel van haar lewe.
Maar twee weke gelede (25 Oktober), toe Johanna weer vir Babatjie wil gaan haal om by haar te kom kuier, moes sy hoor dat Babatjie, of Seun soos sy regmatige eienaar hom noem, sonder haar medewete verkoop is.
“Dit was ‘n geweldige skok vir my. Die ou papegaaitjie is soos ‘n kind vir my. Ek het hom baie gesoen en ons kon lekker cuddle. Hy het die hele huis vol geloop en gevlieg,” vertel Johanna.

Sy het wel kontak gemaak met die “dealer” wat betrokke was.
“Hy het my gevra of ek bereid sou wees om Seun/Babatjie terug te koop teen ‘n bedrag van sowat R15 000. Maar later het hy vir my gesê dat hy nie meer die kontakbesonderhede van Babatjie se nuwe eienaars het nie,” vertel Johanna.
Die nuwe eienaars bly glo in Pretoria en hulle sal die “dealer” kontak as die papegaai nie aanpas nie.
“Ek kan nie dink dat Babatjie sal aanpas nie. Hy was gewoond aan geweldig baie aandag en liefde,” glo Johanna.
Intussen is Seun/Babatjie se voormalige eienaar glo spyt dat hy hom verkoop het, en het glo aan Johanna gesê dat hy hom dadelik sal gaan haal as die nuwe eienaars laat weet hy pas nie aan nie.
“Ek is desperaat en wil Seun/Babatjie bitter graag terug hê. My hard is stukkend en die verlange na hom word net meer,” pleit Johanna.
Indien enigiemand haar kan help om haar geliefde Babatjie op te spoor sal dit opreg waardeer word.
Kontak Johanna met enige inligting by 083 689 0724.


