Local newsNews

Koalisies is die voorland vir regerings in SA, sê Midvaal Hoofsweep

Met die ANC se steun wat begin val tot onder 50% is almal se opinie dat meer koalisies aangegaan sal word

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit

Wat ‘n klipperige paar maande vir koalisies in Gauteng! Met die ANC se steun wat begin val tot onder 50% is almal se opinie dat koalisies die voorland is vir regerings in Suid-Afika. Dit is omrede ons so besonder baie partye het wat op die stembrief verskyn. Wanneer ek nie saamstem met iemand in my party nie, stig ek af en begin my eie party met my eie slim afkorting.

In die stad Johannesburg het die DA Plaaslike Regering aan bewind gekom sonder ‘n koalisie met die EFF maar wel met behulp van hul stemme wanneer die EFF nie vir die ANC wil stem nie. Dit is egter die een of twee klein partytjies wat die skaal laat swaai en wat uiteindelik koning kraai by die koalisie-onderhandelingstafel.

Wanneer die een stem die burgemeester en dus die regerende party kan bepaal, praat ons van ‘n “King maker”. Die party word dan gewoonlik ‘n posisie aangebied op die uitvoerende komitee en was in die verlede proporsioneel totaal uit verhouding tot die aantal setels wat hulle in die raad bekom het.

Die DA het onlangs uit beginsel ‘n stop gesit aan die praktyk en ‘n koalisiebeleid saamgestel. Volgens hierdie beleid sal die partye wat die meeste setels na die koalisie bring, die meeste posisies en ook die uitvoerende posisies beklee. Gevolglik het alle partye wat wil inkoop op die ooreenkoms, deel geword van die beleid en die ooreenkoms geteken. Dienooreenkomstig is die posisies verwerf op grond van wat hulle toekom. Die DA het dit duidelik gemaak dat hulle heel bereid is om eerder die beheer te verloor en as oposisie in die banke te sit as om die beleid te laat vaar en onregverdig en onregmatig te werk te gaan om te regeer.

Soos alle mag maar doen, gaan dit na sekere persone se donker kant toe. Onregmatige verwagtinge is gestel en onregverdige eise is gestel. Die DA het nie gehoor gegee nie en die partye het oorgestap na die opposisie, in stryd met die koalisie-ooreenkoms. Onproseduruele stappe is gevolg om die burgemeester, dr. Mpho Palatse, uit die kussings te lig en nadat die onderonsie in die hof aangehoor is, is dit herroep. Die kans dat dit weer binnekort sal voorkom, is goed. Die wenners is die politici wat nuwe poste beklee en die verloorders is weer eens die inwoners aan wie die dienslewering verskaf moet word.

In Ekurhuleni het ‘n soorgelyke proses plaasgevind. Na onderhandelinge tussen die ANC en EFF kon hulle mekaar nie vind nie en is Tania Campbell teruggestem as burgemeester nadat sy twee weke tevore uitgestem is. In politieke kringe staan dit bekend as “political shananigans”. Die redes wat aangevoer was om haar te verwyder, is dat sy nie vinnig genoeg haar LBKs (MMCs) aangestel het nie. Intussen is hulle besig om Ekurhuleni se dienslewering ten goede om te draai, al neem dit lank.

Groot was my verbasing toe iemand op Facebook, sewe dae nadat Tania die eerste keer (ongeveer ‘n jaar gelede) verkies is, haar aangevat het omdat sy nog niks gedoen het aan die kragtoevoerprobleme nie. In Midvaal is die DA al 22 jaar aan bewind en word daar steeds items in die raad deurgevoer om probleme reg te maak wat 25 jaar gelede veroorsaak is. Sulke groot skepe draai nie in sewe dae (of selfs 10 jaar) om nie.

Midvaal groete, Ph!l.

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button