Ingenieur woel en werskaf sonder hande en been
Hy het aanvanklik vir hom twee hande uit leer by ‘n skoenmaker laat maak en later kunshande gekry waarin ‘n pen vasgeknyp kon word.
Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaanjaar. Ons onthou vanjaar weer uitsonderlike inwoners deur die jare, soos Paul Welgemoed, wat kleur aan Vereeniging gegee het.
‘n Rolmodel vir almal. Dit is al wat ‘n mens kan sê van mnr. Paul Welgemoed, ‘n voormalige Vereenigingse siviele- en strukturele-ingenieur wat albei sy hande en een been in afsonderlike ongelukke verloor het. Paul se van, Welgemoed, sê dit alles: Met sy lewensblye houding, veggees, breë glimlag en vrolike gemoed, was hy ‘n voorbeeld van positiwiteit ondanks sy terugslae. Vaalweekblad van 21 November 1975 het berig dat Paul, in daardie stadium ‘n ingenieur in Vereeniging, besluit het om ‘n splinternuwe loopbaan aan te pak. Hy wou na die Rand verhuis om by die vervaardiging en verkoop van terapeutiese toerusting betrokke te raak. Sy rede? Hy het gevoel dit is sy roeping om mense te help wat aan een of ander gebrek ly.
Voordat hy hom in die sestigerjare in Vereeniging gevestig het, het hy in die Kaap en die destydse Rhodesië en Suidwes as ingenieur gewerk. Een van sy opdragte was om die eerste boogbrug in Rhodesië op te rig. Hy was ook betrokke by die bou van die pad tussen Bulawayo en Salisbury. Die eerste ongeluk in 1968 waarin hy sy been verloor het, het gebeur toe ‘n sinkplaat op sy voet geval het en dit afgesny is. Sy been moes later tot net onder die knie geamputeer word. Skaars twee jaar later het hy sy hande in ‘n ander ongeluk verloor. “Aanvanklik was ek baie terneergedruk maar het gou besef dat dit nie die einde van die wêreld was nie en dat ek niks sou bereik deur selfbejammering nie,” het hy destyds aan Vaalweekblad vertel. “Ek het besluit om die uitdaging te aanvaar omdat daar nog so baie dinge was wat ek kon en wou doen,” het hy gesê.
Hy het aanvanklik vir hom twee hande uit leer by ‘n skoenmaker laat maak en later kunshande gekry waarin ‘n pen vasgeknyp kon word. Hy kon met gemak skryf, ‘n sigaret aansteek en selfs motor bestuur. Nadat hy die Vaaldriehoek verlaat het, het Vaalweekblad kontak met hom verloor. Ons het nie-amptelik verneem dat hy in 2004 in Pretoria oorlede is, maar ons glo dat hy selfs die dood met ‘n glimlag en positiwiteit sou aandurf as ‘n nuwe avontuur.

