Op 93 pas Ouma Sarie steeds in haar dansrok uit 1959!
Sy kan steeds spog met dieselfde slank postuur van 70 jaar gelede en lyk dekades jonger as haar byna 94 jaar.
VANDERBIJLPARK. – Sommige mense voel op 20 al lewensmoeg. En dan is daar mense soos tant Sarie Maartens, wat op die ouderdom van amper 94 steeds elke oomblik aangryp om meer te doen, meer te sien en meer te beleef!
Tant Sarie (nooiensvan Havenga) se bedrywige lewe het op 22 Februarie 1929 in Jagersfontein in die Suid-Vrystaat begin. As jong vrou was sy ‘n kleremaakster in Bloemfontein voordat sy en haar man in 1967 na Vanderbijlpark verhuis het. As moeder van 10 kinders was sy ‘n besige vrou maar vir harde werk het sy nog nooit geskrik nie.
Sy het hul groot vierslaapkamerhuis en dak in Mullerstuine gedurende die 1970s eiehandig geverf terwyl haar man 12-ure skofte as masjinis by die voormalige Yskor gewerk het. In daardie jare het sy ook letterlik duisende brode gebak, duisende bottels vrugte ingelê en baie kastrolle konfyt gekook. Haar roostuin van tussen 50 en 80 struike het sy self gesnoei en ook haar man gehelp met die snoei en versorging van hul vrugteboorde – appelkose, perskes, vye, druiwe en aarbeie. Sy het ook haar eie groente soos tamaties, wortels, boontjies en beet geplant en ingelê. Dan was daar ook nog haar eie kweekhuis met verskeie ander plante. Tussendeur was sy ‘n talentvolle kleremaakster wat die deftigste tabberts en trourokke kon optower.
Ondanks die hartseer om deur die jare twee eggenote en ses van haar kinders aan die dood te moes afstaan, het sy haar onstuitbare lewenslus behou en sy stel vandag steeds baie belang in alles en almal om haar. As meisie van 16 jaar het sy begin om poskaarte, seëls en ou geld te versamel. Deesdae maak sy brille, ou Bybels, gesange- en Psalmboeke, ou borde, koperware, ou fone en kameras bymekaar saam met haar dogter, Saartjie Castelyn, by wie sy nou woon.
Hoewel sy vroeër vanjaar baie siek was en sewe weke in die hospitaal moes deurbring weens ‘n bloedklont in die nek, is tant Sarie weer op die been en klim nog gereeld die 22 trappies na die boonste verdieping van hul huis in Vanderbijlpark, waar haar versamelings bewaar word.
Sy kan steeds spog met dieselfde slank postuur van 70 jaar gelede en lyk dekades jonger as haar byna 94 jaar. Sy skryf dit toe aan Ponds se dag- en nagroom, ten minste twee liter water per dag, baie vrugte en gesonde kookkos. Sy glo ook dat ‘n mens langer jonk bly as jy besig bly. Sy geniet dit om te lees en is steeds baie lief vir plante en die natuur. Sy het deur die jare ook ‘n groot voorliefde vir dans en boeremusiek ontwikkel.
Tant Sarie pas steeds gemaklik in ‘n pragtige aandrok wat sy in 1959 vir haarself gemaak het om na ‘n polisiebal te dra. Die swart satynmateriaal met pienk motiewe het sy destyds by Awerbuchs in Bloemfontein gekoop en die rok inderhaas die aand voor die dans gemaak. Na 63 jaar is die deftige tabbert nog net so mooi soos toe sy dit die eerste keer gedra het.
Haar kleinseun, Gerrie Castelyn, ‘n lektor by VUT, het onlangs besluit om sy ouma op ‘n bederfdag en fotosessie by Vaal Mall in Vanderbijlprk te trakteer. Daarvoor moes sy opsluit weer daardie einste rok dra. Hy het ook toegesien dat sy ouma in sy Chevrolet Fleetmaster 1947-model, presies soos die een wat sy in haar jonger jare bestuur het, daarheen vervoer word. Haar dogter Saartjie, wat net so ‘n vlytige raakvatter is, het besluit die rok gaan nou geraam word en ‘n ereplekkie op hul trapmuur kry.
Tant Sarie is baie trots op haar nageslag van 26 kleinkinders, 29 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders, met nog enetjie op pad in Februarie volgende jaar. Buiten dat hulle baie lief is vir hul aktiewe ouma en oumagrootjie, is sy ook vir hulle ‘n rolmodel van hoe ‘n mens kleur en betekenis aan jou lewe kan gee en die beste uit elke dag kan haal.

Tant Sarie Maartens (93) in die deftige aandrok wat sy in 1959 vir haarself gemaak het. By haar is haar dogter, mev. Saartjie Castelyn.



