Swak toestande by hospitaal laat 3 029 pasiënte op operasies wag
"Chirurge doen die beste wat hulle kan in swak werksomstandighede maar dit is absoluut onmenslik dat pasiënte aan sulke lang wagtye blootgestel moet word," sê Bloom
VANDERBIJLPARK. – Vaalweekblad ontvang byna daagliks versoeke van pasiënte of hul familielede wat om hulp pleit sodat noodsaaklike operasies by ‘n staatshospitaal uitgevoer kan word. Ander smeek vir geldelike bystand sodat ‘n staatspasiënt na ‘n private hospitaal oorgeplaas kan word om daar chirurgie te ondergaan.
Die hartverskeurende feit is dat min van dié pasiënte betyds gehelp sal kan word en soos tientalle voor hulle, blywende mediese probleme sal oorhou weens ‘n gebrek aan tydige hulp. Volgens Jack Bloom, DA-Gauteng se skadu-LUR vir Gesondheid, is daar tans inderdaad 3 029 pasiënte wat op noodsaaklike operasies in die Sebokeng-hospitaal wag.
Uit inligting wat hy amptelik van die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, ontvang het, blyk dit dat 2 250 katarakpasiënte al 9 maande op operasies wag; 133 urologie-pasiënte wag al 9 maande en 52 ortopedie-pasiënte al twee maande om geopereer te word. 544 pasiënte wat heup- en kniegewrigchirurgie benodig, wag al drie jaar of langer.
Nie-funksionerende operasieteaters, beurtkrag en linnetekorte word onder meer geblameer vir dié skokkende stand van sake by die Sebokeng-hospitaal.
Die operasionele toestand van die teaters word beskryf as “belaglik en absurd”, met alge wat op afskilferende mure groei.
Volgens Bloom is daar ‘n verhoogde risiko vir infeksie omdat verkoelers wat die temperatuur in operasieteaters moet beheer, stukkend is. Daarby is die toerusting (autoclaves) wat normaalweeg gebruik word om instrumente te steriliseer, en baie van die teaterligte tans ook stukkend.
Bloom sê hy het voorts vasgestel dat, benewens swak instandhouding, daar tans 48 vakante poste in die Sebokeng-hospitaal se chirurgiese afdeling is. Dit sluit 26 verpleegposte, vier mediese beampteposte, vier skoonmaker- en vier portierposte in. Die hospitaal kort ook een narkotiseur en een spesialischirurg.
“Soos met ander staatshospitale is die swak instandhouding te wyte aan die hopeloos onbevoegde Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling (GDID).
“Chirurge doen die beste wat hulle kan in swak werksomstandighede maar dit is absoluut onmenslik dat pasiënte aan sulke lang wagtye blootgestel moet word,” sê Bloom.
Hy meen slegte bestuur is ook te blameer omdat dit maklik behoort te wees om skoonmakers en portiere aan te stel aangesien daar baie aansoekers vir hierdie soort poste is.
“Sebokeng is ‘n middelgrootte hospitaal wat in staat moet wees om hul eie instandhouding te doen. Vakatures vir personeel moet gevul word en agterstande kan verminder word deur private hospitale te betaal om chirurgie op staatspasiënte te doen. Dit is belangrik dat daar vroeër ingegryp word om te verhoed dat chirurgie-waglyste tot sulke onaanvaarbare vlakke aangroei,” sê hy.

