Local newsNews

‘Ek kon die bewe in my stem en lyf voel toe ek voor mense moes sing,’ sê talentvolle Tanya

Sy is op haar gelukkigste met musiek in haar lewe, en om by haar ouers en haar 'dierekinders' te wees.

VANDERBIJLPARK. – Die stem van ‘n engel… soos soet, louwarm heuning. Dit is gepaste beskrywings as mens luister na Tanya Jacobs wanneer sy sing. En min luisteraars sal kan glo dat dié aantreklike 25-jarige Vaaldriehoekse meisie nog nie ‘n enkele sangles in haar lewe gehad het nie!

Tanya het reeds as kleutertjie daarvan gehou om vir haar ouers, sussies en hul vriendinne te sing. As tiener aan die Hoërskool Vanderbijlpark het sy na haar gunsteling sangeresse soos Selena Gomez en Karlien van Jaarsveld geluister en tuis begin oefen om ook haar eie stem te “vind”.

“Ek het besef dat ek soos ék moet sing en nie moet probeer om iemand te wees wie ek nie is nie. Almal het ‘n unieke stem en mens moet jouself nie probeer vergelyk nie,” sê sy.

“Ek skryf toe vir ‘n kompetisie in maar my stage fright het oorgevat. Ek kon die bewe in my stem en lyf voel omdat ek nie daaraan gewoond is om voor ander mense te sing nie. My ma en pa is die enigstes wat regtig elke dag hoor hoe ek in die stort sing. Dis erg om voor ‘n hele gehoor te sing. Almal kyk na jou en jy weet nie of hulle gaan dink jy sing mooi of nie. Ek weet ek het nog baie om te leer want ek is nie ‘n opgeleide sanger nie.”

Wanneer mens na haar ryk stem en besonder nootvaste sang luister, is dit duidelik dat sy uiters talentvol is en beslis met selfvertroue in die openbaar kan optree. Dit was ook Hendrik Meyer van Eagle Wings Recording Studio se mening toe hy onlangs die geleentheid kry om Tanya in sy ateljee te hoor sing. Hy kon nie glo dat sy nog nie deur die musiekindustrie ontdek is nie en het aangebied om ‘n liedjie vir haar op te neem. Hulle het besluit op Lady Gaga se Remember us this way, wat Tanya op haar asemrowende, unieke manier sing – dalk selfs mooier as die oorspronklike treffer!

“Ek het nie geweet wanneer ek ooit ‘n song sou kon laat opneem nie… dis die grootste voorreg, die grootste droom wat waar geword het,” sê Tanya. Sy is ook baie opgewonde daaroor dat Hendrik in Januarie aanstaande jaar ‘n liedjie waarvan sy die woorde self geskryf en getoonset het, op sy eie koste vir haar gaan opneem. “Ek kan nie wag om dit met almal te deel nie,” sê sy.

Hendrik, wat ‘n opname-ateljee in SE6, Vanderbijlpark het, sê Tanya se oorspronklike liedjie, Hy is daar, is iets so besonders dat hy nou al voorspel dat dit ‘n groot treffer gaan word wanneer dit aanstaande jaar beskikbaar gaan wees.

Ondanks haar besondere talent is Tanya se lewe tot dusver nie net maanskyn en rose nie. Sy stoei met ‘n gesondheidsprobleem – chroniese inflammasie van haar dikderm en maagwand wat skynbaar ook inflammasie in haar knieë veroorsaak. Om dit in toom te hou moet sy ‘n streng glutenvrye dieet volg. Sy mag ook geen koffie of gaskoeldrank drink nie en moet suiker tot die minimum beperk.

Te midde van dié uitdagings gesels sy geesdriftig daaroor dat sy daarvan droom om eendag ‘n lewe uit haar sang te maak, die selfvertroue te kry om voor mense op te tree, te reis en nuwe plekke te sien. Sy werk tans as assistent by ‘n bekende Vaaldriehoekse klere-ontwerper en bly nog by haar ouers, met wie sy ‘n baie hegte band het. Vir romantiese liefde of ‘n spesiale persoon in haar lewe is daar nog nie tyd nie. Sy is op haar gelukkigste met haar musiek en om by haar ouers en haar ‘dierekinders’ te wees.

“Met my gesondheidsprobleme is dit liedjies skryf, sing en dans, en veral gereelde oefening wat my help om van alles te vergeet. Maar ek weet ek sal eendag wees waar ek wil wees met die hulp van God, wat alles op die regte tyd in plek sal laat val.”

* Luister na Tanya se pragtige stem by hierdie skakel op You Tube: https://www.youtube.com/watch?v=dqz6F3fjrws 

 

‘n Blink sangtoekoms word vir Tanya Jacobs voorspel, al het sy nog nooit enige musiekopleiding ontvang nie.

 

Tanya Jacobs in Eagle Wings Recording Studio waar Hendrik Meyer (inks) haar heel eerste liedjie opgeneem het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button