Kollegepark doen hul deel vir liefdadigheid
By Laerskool Kollegepark is daar altyd die een of ander projek aan die gang om mens en dier te help.
VANDERBIJLPARK. – Die Afriforum en MC motorfietsklub het Laerskool Kollegepark genader om deel te wees van die jaarlikse Toy Run.
Dis ‘n insamelingsveldtog om onder andere nie-bederfbare kos, speeldgoed en skryfbehoeftes in te samel vir behoeftiges. Die projek het die Kolleparkers soos ‘n handskoen gepas en daar is verwoed ingesamel.

Op 18 November 2022 was die opgewondenheid voelbaar by die skool. Om 10:00 was al die leerders op die pawiljoen en gereed om hul gaste te ontvang.
Onder groot gejuig het die motorfietsryers voor die pawiljoen gestop. Daar is gedans en gesing en die skool het met trots die wavrag skenkings oorhandig.

Natuurlik het van die kleingoed die kans waargeneem om bietjie agter op ‘n motorfiets (baie stadig) in die skool se parkeerterrein te ry!

Kyk gerus hier na die video.
Dan het die skool se Diensbaarheidsplan van 2023 ook op Vrydag, 18 November by Vaalpets gaan kuier.

Ook vir hierdie projek is daar hondekos ingesamel wat Vaalpets se honde baie waardeer het. Die span het dit baie geniet, maar ook hard gewerk.

Daar is hokke geverf, honde gebad, bakke gewas, met die honde gaan stap en natuurlik het al die honde baie aandag gekry.
Dit is goed om te sien dat daar skole is wat omgee vir die gemeenskap.
