Bekende orkesleier, Olé Smith, se antieke viool te koop
Olé het dié eeue-oue instrument van sy oorlede moeder geërf en kon die allermooiste klanke daaruit voortbring.
VEREENIGING. – Gedurende die 1940’s het die Olé Smith Boereorkes die voete in menige danssaal in Suid-Afrika laat jeuk met hul genotvolle musiek. Die musikant en orkesleier, Olé Smith, kon feitlik alle musiekinstrumente bespeel – van klavier en viool tot Engelse konsertina en trekklavier, maar dit was waarskynlik sy antieke Nicolaus Amatus Cremona-viool wat hom die naaste aan die hart gelê het. Olé het dié eeue-oue instrument van sy oorlede moeder geërf en kon die allermooiste klanke daaruit voortbring.
Soos wat sy gesin groter geword en sy sakeonderneming in Vereeniging uitgebrei het, het die orkes mettertyd doodgeloop maar sy liefde vir musiek het dwarsdeur sy lewe bly staan.
Olé was onder andere ‘n bou-aannemer wat verskeie huise in Vereeniging opgerig het – soos die dubbelverdiepinghuis in Lewislaan 32A waarin hy en sy gesin gewoon het. Hy het ook die bekende Drie Riviere Melkery oorkant Phillips Supermarket gehad, maar het sy sakebelange in Vereeniging in 1965 gegroet om in Vaalwater met Brahmane en mielies te gaan boer. Soos met alles wat hy deur sy lewe aangepak het, was sy stoetery en mielieboerdery ‘n groot sukses en in later jare was hy ook by eiendomsontwikkeling in Vaalwater betrokke.
Met sy afsterwe in 2015 was daar nie net verdriet nie maar ook dankbaarheid by sy kinders en kleinkinders vir al die seën wat hy in sy 94 jaar ervaar het.
Sy dogter, Leonie Aldrich, wat 40 jaar as onderwyseres by die Laerskool Vryheidsmonument in Vereeniging gewerk het en daarna nog drie jaar aan privaatskole verbonde was, het sy kosbare viool geërf.
“Hy wou my altyd leer viool speel maar ons het nooit daarby uitgekom nie,” sê sy. Sy het wel van die ouderdom van 8 jaar af klavierlesse geneem en in later jare ook orrellesse. Musiek vloei steeds warm deur haar are en sy is al die afgelope 24 jaar orreliste vir kerke in Vereeniging. Tans speel sy die kerkorrel vir die Evangelies Gereformeerde Kerk in Arconpark, waar haar man Pat die koster is.
Nadat Leonie Covid opgedoen het, nege weke in die waakeenheid moes deurbring en as onderwyseres uitgetree het, het sy besluit om die waardevolle Nicolaus Amatus-viool te verkoop. Hoewel sy dit nog nie amptelik laat waardeer het nie, weet sy dat daar net ‘n beperkte, genommerde aantal vervaardig is en dat dit etlike duisende rand werd is. Sy hoop dat iemand met ‘n waardering vir so ‘n erfstuk – en verkieslik iemand wat dit sal bespeel – gekoop sal word. Belangstellendes wat dit graag van naderby wil sien, kan Leonie kontak by 084 456 8237.



