Local newsNews

Uniestraat 30 se liggies gaan van vanaand af weer skyn!

Wyle Odette Strydom, wat ongelukkig in Oktober 2020 op die ouderdom van 29 aan hartversaking gesterf het, se ouers sit steeds die jaarlikse liggieskouspel voort ter nagedagtenis aan hul geliefde dogter.

SASOLBURG. – Die Kersfeesliggies wat die Strydomgesin se huis en tuin in Uniestraat 30 tradisioneel gedurende die Desembervakansies versier, gaan hierdie Kerstyd weer vele asems wegslaan. As dit nie reën  nie word die liggies vanaand, 1 Desember, aangeskakel!

Die Strydoms bied al dekades lank die jaarlikse liggieskouspel by Uniestraat 30 in Sasolburg aan. Eers was dit Pa Koos en Ma Zenda wat dit jaarliks as ‘n gemeenskapsprojek gedoen het om geskenke vir minderbevoorregte gesinne en kleingoed in te samel. Nadat Pa Koos een jaar van die dak afgeval het, het Odette, hul enigste dogter, besluit om die projek self te begin dryf. Sy was toe nog ‘n skooldogter van net 14 jaar oud. Vir die volgende 15 jaar het sy elke jaar nuwe planne beraam om die liggieprojek groter en mooier te maak. Sy het ook elke jaar ‘n optog in samewerking met die brandweer en plaaslike GPF gereël om saam deur die strate te ry terwyl Kersvader geskenkies of lekkergoed uitgedeel het.

‘n Groot tragedie het die Strydoms getref toe Odette op 31 Oktober 2020 op die ouderdom van 29 jaar in haar slaap aan hartversaking gesterf het. Die toekoms van die Kersliggieprojek het in die weegskaal gehang want haar ouers en seun, Shane, se hartseer was so groot dat die liggies die laaste ding in hul gedagtes was. Die gesin het uiteindelik tog deurgedruk en die Kersliggies in 2020 laat brand as ‘n huldeblyk aan Odette. Verlede jaar het hulle weer so gemaak en vandag, op 1 Desember 2022 om 19:00 gaan die liggies weer aangeskakel word, mits dit nie reën nie. As die weer saamspeel, sal dit elke aand gedurende die Kerstyd vanaf 19:00 tot omstreeks 21:30 brand.

“Ons dink elke oomblik aan Odette terwyl ons die liggies opsit,” sê Odette se ma, Zenda.

Die Strydoms hou die liggieprag nooit net vir hulself nie. Hulle nooi elke jaar die Vaaldriehoek se inwoners om te kom stilhou en kyk, of selfs deur die erf te stap. Vanjaar gaan hulle ook die gedeelte by hul swembad oopmaak sodat die publiek daar kan deurloop om die liggies te bewonder.

Die Strydomns beplan ook ‘n Kersliedere by Kerslig vir 16 Desember om 17:30 vir 18:00. Almal is welkom om te kom luister en saam te sing. Toegang is gratis. Bring net jou eie stoel, kombers, kerslig en jou familie en kom kuier lekker saam.

Die Strydoms het ‘n kragopwekker aangeskaf sodat die liggies kan brand, selfs al is daar dalk kragonderbrekings of beurtkrag. Hoewel hulle nie vir donasies vra nie, is daar ‘n donasieboks as mense ‘n bydrae wil maak vir die elektrisiteitrekening of vir petrol vir die kragopwekker – indien dit aangeskakel moet word. Enige geskenke of lekkergoed vir minderbevoorregte kinders sal ook baie waardeer word.

Navrae kan gerig word aan Koos (083 229 8132) of Yolandi (083 262 1770).

Foto onder: Die huis in Uniestraat 30, Sasolburg is al jare lank elke Kerstyd ‘n skouspel van lig en kleur. Op die inlasfoto is ‘n jong Odette Strydom, wat ongelukkig in Oktober 2020 op die ouderdom van 29 aan hartversaking gesterf het. Haar ouers sit steeds die jaarlikse liggieskouspel voort ter nagedagtenis aan hul geliefde dogter.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button