RUBRIEK. – ‘n Mens word lief vir hulle. Die dierekinners. Chicky was my Duitse herdershond-Malamut Husky kruising.
Sy was hiper intelligent. Derde keer wat jy vir haar beduie het om te sit by die hondeskool het sy begin terugpraat. Sy het dit dan met die eerste poging al verstaan!
Geblaf het sy nie. Soos ‘n wolf gehuil as sy ‘n sirene of kerkklok hoor, het sy wel. Ek en sy het Chicky taal gepraat.

My hond. My skaduwee. En toe kom die dag wat sy siek geword het. Sy nie meer kon nie en ek daardie besluit moes neem…
Dan was daar Nooi, my oorgroot swart Labrador. Sy was aan die stout kant. Kom by die huis en Nooi se gesig is dik geswel. Sy het ‘n oorlog met ‘n by verloor. Soek vir Nooi net om haar uiteindelik in die motorhuis te kry, toe onder die stof.
Nooi wat oorbeskermd geraak het toe my man dood is. Wat daarop aangedring het om voor in die motor te ry. Wat saam met my Graskop toe getrek het en toe weer Vanderbijlpark toe.
Sy het gehelp om Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi groot te maak. En toe? Toe word Nooi oud en sy het seer en ek moes weer die besluit neem…
Ek onthou die aand goed. Terwyl ek gewag het, het ek die volgende geskryf:
Ek het nooit voorheen besef hoe depressiewe plek ‘n veearts se wagkamer kan wees nie. Die mense wat vanaand wag, is nie praters nie. Almal doodstil.
Pa sit in die Venture en huil. Nooi is agterin. Blaf vir die ander honde, maar te swak om soos in die ou dae op die sitplek te klim of oor dit soos wat haar gewoonte was.
Die bank waarop ek sit is koud, hard, en lelik. Ek het nog nooit van die plek gehou nie.
Ek het geweet die dag gaan kom. Die groot besluit. “Ek stuur haar vir jou Nico. Vir jou en Chicky en Heidi.”
Die wag raak lank. Doen ek die regte ding? Sy het seer. Sy loop swaar. Sy kreun heelnag.
Die mense langs my het begin gesels. Die bruin pointer het ‘n lap om die agterbeen. Sy is duidelik nie meer lus vir wag nie. Die pekinesie sit doodstil.
Ek sit. Ek wag. Die man raak ligweg ongeduldig met die pointer. Die pekinees se baas skuif sy voete weg. “Ons wag al ‘n uur en ‘n half,” sê die een vrou. “Is oor hier net een veearts is vandag,” beaam ‘n ander.
Die bankie word harder, kouer en leliker.
Die pointer se tande klap op mekaar soos Nooi s’n gedoen het toe sy destyds die ligte beroerte gehad het. Ek hoor haar nie meer blaf nie. Dalk slaap sy. Sou Pa nog huil?
Ek wil nie opstaan nie. My kakebeen begin pyn. Ek besef my tande is opmekaar geklem. Probeer ontspan en voel hoe die knop op my maag stywer span. My oë brand.
Nico se laaste hond gaan vandag na hom toe. Ek is vir ‘n oomblik kwaad vir hom. Oor ek die een is wat op harde, koue bankies moet sit.
Heidi het hulle met die honde ambulans kom haal in 2009. Chicky moes ek self vat al die pad van Graskop af Sabie toe. Daardie bankie was ook hard.
En hier sit ek alweer. Sy was nou die dag nog ‘n spelerige puppy.
Die pointer kom stert in die lug uit. Sy gaan huis toe. Die man tel sy pekinees op en dra hom deur die lelike deur na die veearts toe.
Sal ek vir Pa solank gaan roep of sal ek maar bly sit? Nooi was nog altyd gek oor die Venture. Wou van babadae op die passasiersitplek sit. Sy kan nie meer daar opklim nie.
Dié rede hoekom ek nou al meer as ‘n uur op die harde, koue, lelike bankie sit. Ek het nog nooit van die plek gehou nie.
Dis al langer as vyf jaar, maar ek mis my Nooi steeds…
