Groot bome val karre plat in Vereeniging
"Dit was soos 'n sweepslag. Die motor het skielik tot stilstand gekom. My bril het van my gesig afgevlieg en ons moes tussen takke en blare by die motordeure uitklim"
Hoe gemaak as jy die een oomblik nog rustig op ‘n openbare pad ry en die volgende oomblik word dit donker om jou as ‘n boom van etlike ton skielik op jou voertuig val? As dit gebeur het en jy leef om die skade te aanskou, kan jy eintlik niks anders doen as om net ‘n dankgebedjie te prewel nie.
So ‘n voorval het ‘n oud-skoolhoof van Vereeniging, mnr. Johan van Rensburg, en sy seun in 2002 getref, maar gelukkig het albei die amperse tragedie oorleef.
Mnr. Van Rensburg, destyds hoof van die Hoërskool Drie Riviere, en sy seun Wikus het die dag in Voortrekkerstraat naby die treinbrug gery toe ‘n reuse-boom hulle van voor getref en op die motor se enjinkap geval het.
“Dit was soos ‘n sweepslag. Die motor het skielik tot stilstand gekom. My bril het van my gesig afgevlieg en ons moes tussen takke en blare by die motordeure uitklim,” het Van Rensburg agterna aan Vaalweekblad vertel. Sy voertuig was erg beskadig. “As die ongeluk sekondes later gebeur het en die boom ‘n meter of wat na agtertoe op die motor se dak geval, was ek en my seun dalk dood,” het hy gesê.
Nog so ‘n voorval het op 5 Augustus 2007 plaasgevind toe ‘n man en sy werknemer in Vereeniging gery het en hul bakkie ook in Voortrekkerstraat deur ‘n vallende munisipale boom getref is. In hierdie geval is albei ongelukkig redelik ernstig beseer en die bakkie erg beskadig.
Die saak het in die hof gedraai, waar die eienaar van die bakkie ‘n groot eis teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vir sy afgeskryfde voertuig, hul mediese uitgawes sowel as vir pyn en lyding ingestel het. Emfuleni het die saak teengestaan maar dit is nie bekend of die munisipaliteit uiteindelik moes opdok nie.
- Lees in Vaalweekblad se uitgawe van 30 November 2022 oor nog ongewone nuusgebeure wat deur die jare in Vereeniging afgespeel het.


