Local newsNews

Matriekseun binne minute deur twee voertuie getref

"Ek het 'n minibus-taxi op my sien afpyl. Die polisieman het die bestuurder probeer waarsku maar dit was te laat. Ek het uit die pad probeer rol maar die taxi is bo-oor my regterbeen. Ek was weer van vooraf bewusteloos"

Hier is nog een van die ongewone nuusgebeure uit Vereeniging se ou dae:

Asof een ernstige voertuigbotsing nie genoeg is nie, was ‘n Vereenigingse matriekseun op ‘n aand in 1993 binne ‘n paar minute die slagoffer van twee verskillende padongelukke!

Gifford Peché (destyds 18), het die betrokke aand met ‘n geleende motorfiets gery toe hy omstreeks 19:00 by die T-aansluiting van Bobby Locke- en Houtkopweg deur ‘n motor getref is. Hy het bo-oor die voertuig se dak getrek voordat hy in die teerstraat te lande gekom het. Hy het destyds uit sy hospitaalbed aan Vaalweekblad vertel wat gebeur het:
“Ek moes seker vir ‘n rukkie bewusteloos gewees het. Toe ek bykom het ek groot oop wonde en baie bloed aan my been gesien. ‘n Polisieman was langs my en het gesê ek moet net rustig bly, daar is mediese hulp op pad. Ek het gevra of hy my ouers, wat ‘n entjie verder in Japie Krigestraat gewoon het, kon laat weet.”

Die man het weggestap en die volgende oomblik het Gifford net gehoor hoe mense skree. “Ek het ‘n minibus-taxi op my sien afpyl. Die polisieman het die bestuurder probeer waarsku maar dit was te laat. Ek het uit die pad probeer rol maar die taxi is bo-oor my regterbeen. Ek was weer van vooraf bewusteloos en is per ambulans hospitaal toe geneem,” het Gifford agterna vertel.

Sy gebreekte onder- en bobeen is in ‘n noodoperasie van drie ure in Vereeniging Mediclinic met penne geheg. Hy het ook inwendige beserings opgedoen en sy regterpolsgewrig was gebreek.

Gifford, wat in daardie stadium voorberei het vir sy matriekeksamen aan die Hoërskool Vereeniging, moes nog ‘n paar weke in die hospitaal deurbring en kon daardie jaar nie teruggaan skool toe nie. Die uiteinde was dat hy sy matriek eers die volgende jaar kon skryf.

* Vaalweekblad het Gifford nou weer na 29 jaar opgespoor. Die matriekseun van destyds is nou ‘n aantreklike man van 47, wat saam met my vrou Sharon en drie honde in Monumentpark, Pretoria woon.

Hy sê hy kan die aand van die ongeluk in detail onthou. “Hoewel dit baie grusaam was, het dit sedertdien glad nie by my kom spook in die vorm van nagmerries of PTSD nie, moontlik juis omdat ek alles so goed kan onthou en daar geen raaisel is om op te los nie.
“Ek het amper volkome van my beserings herstel, as mens in ag neem dat ek amper alles aan die regterkant van my lyf sowel as my bekkenbeen gebreek het. My oogspiere was ook geskeur, wat my vir ongeveer ses maande lank dubbel laat sien het. Die motorfiets waarmee ek in die ongeluk betrokke was, was my meisie van destyds se pa s’n. Hy was glad nie bekommerd oor die motorfiets nie en was ook daardie aand saam met my ouers by my in die hospitaal,” sê Gifford.

Na skool het hy ‘n graad aan Tukkies behaal, nog IT-kwalifikasies verwerf en vir etlike jare by verskeie groot maatskappye gewerk, onder andere vier jaar in Nigerië. Die afgelope 10 jaar bedryf hy sy eie onderneming, Decibels Studios, waar hy professionele video’s en radio-advertensies vir besighede produseer.

 

Gifford Peché, destyds ‘n matriekseun, na die dubbele ongeluk.

 

Gifford en sy vrou, Sharon, vandag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button