Onse Juffrou Rina Bosch het tieners verstaan
Ons gaan kuier aan’t huis by Mev Rina Bosch wat dekades lank deel was van die lief en leed van Hoërskool Vanderbijlpark en na haar “aftrede” nog vele jare dosent was by die NWU.
VANDERBIJLPARK. – Sy was ons Ma Bosch – die wiskunde juffrou wat verstaan het.
Verstaan het as tieners nie altyd kan stilsit in ‘n klas nie. Verstaan het dat ons nie aldag lus was vir wiskunde ni. Verstaan het en omgegee het.

Dit was Mevrou Rina Bosch wat in 1989 agtergekom het haar standaardgraad wiskunde matrieks is omgekrap oor die matriekafskeid.
Vele het nog nie maats gehad nie en was te skaam om te vra. Net daar het sy die klas gestop en eers gesorg dat almal darem “dates” vir die aand het.
Mattheüs Willemse, van dieselfde jaar se onhebbelikes, onthou hoe sy hom en ‘n vriend eendag uit die klas gestuur het om russian en chips te gaan koop, omdat hulle in allegeval besig was met speletjies in plaas van oplet.
Sy het gereeld haar lesse, met “Boere en Boerinne” begin. Sal moelik wees om te raai hoeveel Bijlers het sy oor die jare deur wiskunde gehelp.
Mev. Bosch het in die middel van 1971 by die Hoërskool Vanderbijlpark begin klasgee en was deel van die skool se lief en leed tot 2006.
Daarna wou sy aftree, maar toe bel die Noord-Wes Universiteit se Vanderbijlpark kampus en vra of sy hulle nie net ‘n semester kan kom uithelp in hul Opvoedkunde Departement nie.
“Ek het didatiek en wiskunde vir onderwysers gegee. Didatiek was nie my sterkpunt nie, maar ek het hulle baie groepwerk laat doen en my studente was tog te ingenome omdat hulle so baie bymekaar kon leer,” lag sy.

Die semester het ‘n jaar geword. Steeds was dit aftree niet, want toe het die universiteit se Wiskunde Departement haar genader om ‘n oorbrugingskursis in 2009 te begin.
“Ons het die studente wat Wiskunde Geletterdheid op skool gehad het voorberei om wiskunde op universiteitsvlak te neem,” vertel sy.
Vir die volgende 12 jaar was sy wiskunde dosent en het dit baie geniet. “Ons het werklik ‘n verskil in die studente se lewens gemaak.
Dit was altyd so lekker as ‘n voormalige student my met ‘n gradeplegtigheid kom opsoek om ‘n foto saam met hulle te neem.
“Om darem te sien hoe hulle B.Comm grade en meestersgrade kry was besonders. Een van hulle het selfs ‘n doktoraal behaal,” vertel sy trots.
Onderwys vloei sterk in Mev. Bosch se are. Haar pa was ook ‘n onderwyser, skoolhoof en later direkteur van wiskunde.
Die gesin het baie getrek en Rina was in verskeie skole. Na matriek het sy onderwys in Pretoria gaan swot.
“Ek wou van kleintyd af onderwyseres word. Ek het as kleuter al skoolgehou vir my ma se kussings en my pa se roosbome. Man, ek het daai kussings pap geslaan en die roosblare het gereeld oral gelê omdat my “leerlinge” nie wou luister nie,” lag sy.
Sy het haar onderwysloopbaan in 1967 by Afrikaans Hoër Meisies begin, voordat sy in Alberton en later op Voortrekkerhoogte skoolgehou het.
Dit was ook in Pretoria waar sy haar man, Jaap, ontmoet het. Die egpaar is die jaar al 51 jaar getroud. Hulle het Vanderbijlpark toe getrek omdat hy hier ‘n werk aanvaar het.
“Ek het altyd gesê ek wil nie hier bly nie en as ek hier doodgaan sou ek my kis optel en wegloop. Nou wil ek nêrens anders bly nie!
”Mev. Bosch geniet dit as haar oudskoliere haar kom opsoek. Onlangs het vier van haar 1977-klas vir haar kom kuier op haar verjaarsdag in November.
“Ek was so bly om hulle weer te sien. Toe ek die kar hoor stop, toe sê ek vir Jaap, ‘die kinders is hier.’ Hy sê toe maar hulle is nou al hul 60’s, maar dit maak nie vir my saak nie. Elkeen van my oudleerlinge sal my kinders bly.”
