Local newsNews

Historiese gebeure in Vereeniging: Tragedie volg toe Boere nie weet van Vredesluiting nie

Omdat die offisier sy laaste twee patrone opgebruik het, het hy die derde boer met sy rewolwer tussen die oë gegooi

Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaanjaar. Vaalweekblad kyk vanjaar terug na groot nuusgebeure wat deur die jare hier afgespeel het:

Dit was met gemengde gevoelens dat die Boere op 31 Mei 1902, toe die Vrede van Vereeniging gesluit is, moes aanvaar dat die Anglo Boereoorlog verby was en hulle as verloorders uit die stryd moes tree.
Ongelukkig was daar nog nie kommunikasiemiddele om al die vegtende Boere in die veld te laat weet dat die oorlog verby was nie.
Op 4 Junie 1902, vier dae na die Vredesluiting, het twee offisiere van Nieu-Seeland se 9de Kontingent te perd uit hul kamp naby Vereeniging gery om springbokke vir die pot te gaan jag.

Drie Boerekrygers, wat niks van die Vredesluiting geweet het nie, was op dieselfde tyd in dieselfde gebied. Toe hulle die twee offisiere, luitenante Robert McKeich en Henry Rayne opmerk, was hulle dadelik gereed vir aksie.
Die Boere het die twee offisiere verras en hulle beveel om hul klere uit te trek en hul vuurwapens te oorhandig.
Terwyl luitenant Rayne besig was om sy baadjie uit te trek, het hy skielik sy rewolwer wat aan sy sy gehang het, uitgepluk en een van die Boere deur die kop geskiet en nog een in die bors gewond.

Omdat hy sy laaste twee patrone opgebruik het, het hy die derde boer met sy rewolwer tussen die oë gegooi en sy skedel gekraak. (Hy het glo later weens die besering gesterf).
Die twee Nieu-Seelandse offisiere het inderhaas op hul perde gespring om te ontvlug, maar die Boerekrywer wat in die bors geskiet is, kon daarin slaag om met sy vuurwapen op hulle los te brand. McKeich, wat 47 jaar oud was, is op die toneel dood en Rayne is minder ernstig gewond.
Sover bekend was McKeich en die twee Boerekrygers die laaste Anglo Boereoorlog-vegtendes wat weens oorlogsverwante skietwonde gesterf het. Nog ‘n berig onder

 

‘n Gedenkteken uit gietyster is vir luitenant Robert McKeich opgerig waar hy in die oorlogsbegraafplaas op Maccauvlei-gholfklub se terrein begrawe is.

 

 

Soldate se laaste rusplek in Vaal gevandaliseer

As die 74 gesneuwelde soldate wat in die Tuin van Herinnering by die Maccauvlei-gholfbaan begrawe is kon weet wat vandale in 2018 aan hul laaste rusplek gedoen het, sou hulle sekerlik ‘n paar keer in hul grafte omdraai! Die gietystergedenktekens by die grafte in die geskiedkundige oorlogsbegraafplaas is vroeg daardie jaar verwyder of gebreek.

Mnr. Humphries Jooste, ‘n bekende Vereenigingse argitek en beskermheer van die Tuin van Herinnering, het vermoed dat vandale die gedenktekens verwyder het om as skrootmetaal te verkoop.
“Die diewe het dit waarskynlik vir ‘n totaal van so min as R200 verkoop sonder om te besef dat dit ‘n historiese en sentimentele waarde van onskatbare waarde het,” het Jooste gesê.

Die soldate wie se oorskot in die Tuin van Herinnering begrawe is, het van regoor die wêreld gekom om in die Anglo-Boereoorlog te veg. Hulle het onder meer diens gedoen by die Royal Engineers, die Kings Royal Rifles, die Queen’s Cavalry, Wallis Borderers, New Zealand Mounties, die Gordon Highlanders en die Norfolk Regiment. Hulle het tussen 1900 en 1902 in die oorlog gesneuwel. Baie van hulle was eintlik nog maar seuns van 18 jaar.

In 1961 het die 1820-Setlaarsorganisasie besluit om Britse soldate se grafte wat in afsonderlike klein kerkhowe in Viljoensdrift, Engelbrechtsdrift, Kliprivier, Meyerton en Vereeniging was, na ‘n enkele oorlogsbegraafplaas by Maccauvlei langs die gholfbaan te verskuif. Hier kon die gesneuweldes in vrede rus – totdat hul grafte deur hedendaagse grafrowers versteur is.

 

Een van die gedenktekens wat in 2018 uit die grond geruk en gebreek is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button