Jong dorp was getuie van oorlogsverdriet
Na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging is die aangehoudenes in fases vrygelaat en teen einde Oktober 1902 is die kamp gesluit.
Vereeniging herdenk vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Om dit te vier, kyk Vaalweekblad terug na groot nuusgebeure wat deur die jare hier afgespeel het:
Vereeniging, toe nog ‘n jong dorpie, het nie die afgryslike effekte van die Anglo Boereoorlog (1899 tot 1902) vrygespring nie. Hewige gevegte tussen Boer en Brit het hier plaasgevind en baie bloed het hier gevloei.
Weens die Engelse se Verskroeide Aarde-beleid moes talle Vereenigingse boervroue wie se mans in die oorlog geveg het, toekyk hoe hul huise en lande deur Britse soldate afgebrand en hul vee doodgemaak of weggevoer word. Die Britte se doel hiermee was om die Boere se kos en ander lewensmiddele te vernietig sodat hulle nie hul guerilla-oorlog kon voortsit nie.
Van die Boervroue en kinders het ‘n geruime tyd in onopvallende plekke op hul plase weggekruip voordat hulle deur patrollerende soldate gevange geneem is. Verswakte en emosioneel afgetakelde vroue en kinders is in ‘n konsentrasiekamp in die suidelike deel van Vereeniging, aan die oewer van die Vaalrivier, aangehou (op Union Steel-aanleg se terrein). ‘n Konsentrasiekamp vir swartmense is ‘n ent verder, stroom-op, opgerig. Teen Oktober 1901 was daar 330 vroue, 185 mans en 452 kinders in die wit kamp.
‘n Mediese dokter, dr. Kendal Franks, en G.W. Goodwin, die hoofsuperintendent oor Transvaalse kampe, het onderskeidelik in 1900 en 1901 gerapporteer dat dit oor die algemeen goed in die Vereenigingkamp gegaan het en dat die aangehoudenes redelike goeie gesondheid geniet het. Hoewel toestande in die Vereenigingse konsentrasiekamp skynbaar beter was as in ander dele van die land, was dit alles behalwe rooskleurig. Die gehalte van die aangehoudenes se kos was wel beter as in ander kampe omdat hulle gereeld vleis en groente gekry het, maar die aangehoudenes moes uitsterste weersomstandighede en siektes soos masels, ingewandskoors, tifus en longontsteking trotseer.
Daar was nie watertoevoer na die kamp nie en hulle moes hul water direk uit die Vaalrivier kry, wat met riool en afvoerwater komende van die swart kamp stroom-op, besmet was. Dit was waarskynlik die hoofoorsaak van ingewandsiektes. Daar was geen wasgeriewe nie en net 24 toilette vir die sowat 1 000 gevangenes op die perseel.
Engelse onderwysers het op die kampterrein sowel as by ‘n geboutjie naby die Grand Hotel en die spoorwegstasie skoolgehou vir die konsentrasiekampkinders. Die opleiding was natuurlik net in Engels. Amptelike verslae uit daardie tyd noem dat die boervroue fluks en innoverend was. Hul kamptente was besonder skoon en netjies, en hulle het met die min middele tot hul beskikking steeds moeite gedoen om pasteitjies te bak en smaaklike kos voor te berei.
Siektes het egter hul tol geeis. In totaal het 156 mense in die konsentrasiekamp gesterf, van wie 108 kinders onder die ouderdom van 15 was. Vereeniging se konsentrasiekamp-kerkhof, wat nog gereeld deur kultuurgroepe skoongemaak en onderhou word, is die stille getuie van hierdie bitter hartseer tyd.
Na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging is die aangehoudenes in fases vrygelaat en teen einde Oktober 1902 is die kamp gesluit.
Bronne: Ons Storiewa – Vereeniging en British Concentration Camps of the South African War 1900-1902.

