Man doodgeskok toe hy takke van moerbeiboom by hoogspanningskabels snoei
‘n Man van Golfpark is dood toe hy deur ‘n hoogspanningskabels geskok is terwyl hy besig was om die takke van ‘n boom in sy erf te snoei.
Jan Hendrik Bekker (40), ‘n elektrisiën van beroep, was volgens sy vrou Yolanda (44), Sondagoggend, 27 November besig om ‘n moerbeiboom op hul erf in Akasiastraat in Golfpark te snoei toe hy doodgeskok is.
Daar loop blykbaar meer as 88 000 Volts deur die hoogspanningskabels.
Jan Hendrik se liggaam het uit die boom geval en hy het op sy rug op die grond te lande gekom.
Volgens Yolanda was daar ‘n merk op Jan Hendrik se hand waar die elektriese stroom sy lyf binnegedring het en op sy voet waar dit vermoedelik sy liggaam verlaat het.
“Hy was besig om die takke met ‘n kettingsaag te sny. Die krag het vermoedelik van die hoogspanningskabel gespring en het deur sy lyf getrek. Hy het ‘n geleier vir die elektrisiteit geword,” vertel sy.
Die kragstuwing het volgens Yolanda die huis se krag uitgeskop.
Die kettingsaag wat Jan Hendrik gebruik het, werk verbasend genoeg nog. Yolanda en Jan Hendrik woon al agt jaar daar.
Yolanda het verlede week aan Vaalweekblad gesê sy voel Eskom het ‘n verantwoordelikheid om die plantegroei naby die hoogspanningskabels te snoei en in stand te hou.
Sy sê die nasionale energieverskaffer het die afgelope paar jaar nagelaat om takke naby die hoogspanningskabels te snoei.
Volgens Yolanda het Eskom ‘n serwituut oor ‘n gedeelte van hul eiendom.

Yolanda verduidelik dat waar Eskom in die verlede van tyd tot tyd uitgekom het om die bome te snoei, hulle dit die afgelope drie jaar nie meer doen nie.
Dit het volgens haar daartoe gelei dat bome gereeld aan die brand raak wanneer dit in kontak kom met die kragkabels Volgens haar sou Eskom in die verlede die krag afskakel en dan die takke met behulp van ‘n hyser (‘cherry picker’) snoei.
Volgens Yolanda het sy en haar man raad oor die probleem ingewin.
Hulle het glo met die munisipaliteit en die brandweer daaroor gepraat.
Daar is toe voorgestel dat hulle self die takke snoei aangesien dit ‘n brandgevaar inhou. Jan Hendrik en Yolanda het onlangs die huis gekoop.
Die eerste paaiement het volgens Yolanda onlangs afgegaan.
Jan Hendrik was met sy afsterwe die enigste broodwinner.. Hy het ook nie enige polisse behalwe ‘n begrafnispolis in plek gehad nie.
Yolanda sê sy is in hierdie stadium nie seker hoe sy die verband gaan afbetaal nie.
Sy en Jan Hendrik was besig om ‘n woonstel op die erf in te rig sodat hulle dit vir ‘n ekstra inkomste kon verhuur.
Jan Hendrik word oorleef deur Yolanda, drie volwasse stiefkinders en twee kleinkinders.
Yolanda sê sy kom na die voorval nie naby die boom nie.
“Ek oorweeg dit om die huis uit te verhuur, maar wat van as die mense (wat hier kom bly) kinders het en hulle klim in dieselfde boom? Wat as daar nog lewens geëis word? Eskom moet self uitkom en die boom afkap,” meen sy.
*Navrae is aan Sikonathi Mantshantsha, ‘n woordvoerder van Eskom, gestuur. Hy het laat weet dat dit sowat ‘n week of twee kan neem alvorens ‘n verklaring uitgereik word.


