Sakevrou van Vaal se sukses is Inspirerend!
"Ek glo dat my geloof in God, my man se onwrikbare ondersteuning, en my familie my grootste suksesgeheim is!"- Lize Grobbelaar
“Harde werk is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n leefstyl! Niks in die lewe wat die moeite werd is, kom verniet nie, en daarom moet ons daagliks elke geleentheid aangryp en die beste daarvan maak.”
So gesels Lize Grobbelaar, direkteur en prinsipaal van Huizemark Vaal, met ‘n aansteeklike entoesiasme en duidelike passie vir die lewe.
Lize is gebore en getoë in Sasolburg en dis hier waar sy haar baie suksesvolle eiendomsbesigheid bedryf. Die passie vir eiendomme en om mense te help om hul droomhuise te koop, het sy van haar ma, Hypie Roodt, gekry. Hypie het deur die jare ‘n huishoudelike naam geword wat almal in Sasolburg goed ken – sy het onlangs 30 jaar van sukses as eiendomsagent gevier.
Hypie se voorbeeld het Lize geïnspireer om byna twee dekades gelede, op 18-jarige ouderdom, ook die eiendomsbedryf aan te vat en sedertdien werk sy en haar ma saam. Die twee spog met rekordverkope van onderskeidelik 30 en 16 eiendomme in een maand!
Lize is 22 jaar getroud en is baie dankbaar vir haar man, haar lewe, haar gesondheid en haar sakeondernemings. “Ek glo ons keuses maak ons wat ons is, en dat ons verantwoordelikheid moet neem vir die besluite wat ons maak,” sê sy. “Om eg te wees aan wie jy is, is ‘n rare eienskap. Ek glo dat my geloof in God, my man se onwrikbare ondersteuning, en my familie my grootste suksesgeheim is!”
Sy is trots en dankbaar dat die besluit wat sy 19 jaar gelede geneem het om haar eie besigheid te begin, ‘n werklikheid kon word. Oor die jare heen het haar ondernemings gegroei en stelselmatig het sy haar Huizemark-franchise uitgebrei na Vanderbijlpark en nou ook Vereeniging. Hierdie jaar is sy as naaswenner in die land bekroon, te midde van baie sterk kompetisie van Huizemark-franchises in groot stede.
Maar eiendomme alleen is nie al waaroor Lize begeesterd is nie. Vyf jaar gelede het sy haar eerste kursus as ‘Nero Coaching Practitioner’ gedoen en spesialiseer nou hierin. “Dit het my hele lewe verander! Ek vind soveel bevrediging daarin om as Life Coach mense te help en waarde tot hul lewe toe te voeg, dikwels in die mees onverwagte aspekte. Ek geniet elke oomblik hiervan,” sê Lize met ‘n glimlag waaruit opregte warmte straal.
Haar sukses as lewensafrigter (Life Coach) het gelei tot verskeie optredes by dames-oggendtees en haar reputasie as ‘n betroubare soort mens wat almal se vertroue deur-en-deur werd is, het nuwe geleenthede die lig laat sien. Kort voor lank is sy genooi om motiveringstoesprake op die verhoog by Barnyard Teaters te doen! Lize glo dat sy hier is om ‘n verskil te maak in mense se lewens, en dit doen sy beslis in die vele rolle wat sy met passie en ‘n hart vol liefde vervul.
Dit laat ‘n mens wonder, hoe is dit dan dat ‘n mens so suksesvol kan wees? Hoe is dit dat Lize Grobbelaar gekies is as die eerste vroulike ondervoorsitter van die Sasolburg Sakekamer? Is dit net geluk? Die antwoord is nee: Lize doen alles met die houding van ‘Voluit of Niks!’. Dis by haar ‘n gewoonte om alles wat sy aanpak met volle oorgawe en positiewe geloof te doen, en met ‘n onwrikbare dankbaarheid teenoor haar ouers wat by haar die grondslag van integriteit gelê het.



