Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ek gesels oor musiek en liedjies wat (ongevraagd) in jou kop vassteek. Lees meer...
RUBRIEK. – Wat is dit met ‘n mens se brein dat ‘n liedjie soms vassteek en soos ‘n vasgehakte plaat oor en oor in jou kop begin draai?
In my geval is dit meer as die helfte van die tyd juis ‘n liedjie wat ek nie kan uitstaan nie. Jare der jare gelede was daar ‘n kinderprogram met die naam Pumpkin Patch op TV.
Ek wil nie eens daaraan dink nie, want daai temalied… Nee, net nee! Om van I’m a Barbie girl nie eens te praat nie.
Hierdie naweek was dit weer ‘n baie ou liedjie. Ken nie die naam nie en ken ook nie die res van die woorde nie.
Net die stukkie, “the wheels of the bus go round and round, round and round, round and round”, het die hele liewe naweek in my kop vasgesteek.
Dit was nou seker na aanleiding van ons jaareindfunksie Vrydag waar ons die heeldag op ‘n bus spandeer het.
Ek gaan daaroor ‘n sluier trek. Oor sekere goed sal selfs ek nie durf waag om uit te praat nie.
Maar so wheels-on-the-bus ek toe die naweek tot my eie irritasie en groot vermaak van twee van my boesemvyande, Skrywersblok en Sperdatum.
Die twee weet mos wanneer om my te tempteer en Desembers is hul blykbaar op hul stukke. Plaas los hulle my net in vrede, sodat my besties, Kreatiwiteit en Verbeelding kan oorneem en ek my werk kan doen.
Dit nou daar gelaat.
Terug by die musiek. Die ding van ‘n lied wat in jou brein nesskop het my desjare terug amper in die pekel gehad.
Dit was tydens ‘n Aardrykskunde vraestel in standerd 7, vandag se graad 9. Alles het relatief goed gegaan totdat ek lees, wat is die hoofstad van Botswana?
Nou ek het toe geweet, soos ek vandag nog weet, dis Gaborone, maar op daardie oomblik toe laat Gaborone my skielik aan PJ Powers se Jabulani dink!
Ag ja, res van die vraestel is al wat deur my kop maal Jabu… Jabulani en alle aardrykskundekennis is by die agterdeur uit!
Nou se dae is daar ook ‘n paar liedjies wat heeldag en aldag op die plaaslike radiostasie speel wat my geheel teen die mure uitdryf.
Ek hou van musiek. Regtig. Maar, die woorde moet darem sin maak. Ek wil na die storie luister en die prentjie in my kop sien, maar die goed waar elke tweede woord rym maak gewoonlik nie sin nie. Wel nie vir my nie.
Die bokkie-sokkie-rokkie-liedjies en die Benoni-toere het hul aanhangers, maar ek verkies om dit by my verby te laat gaan.
Nie dat ek ‘n musiekkenner is nie. Allermins. My Liewe Vriend vra gereeld vir my: “Wie sing daar? Wat is die liedjie se naam?”
Hy ken die antwoorde op al die vrae. Maar ek haal gewoonlik net skouers op. ‘n Liedjie is vir my mooi of dis nie en wie dit sing gaan gewoonlik my verstand te bowe.
Saamsing sal ek ook nie sommer nie. Net as ek alleen in die motor is en die langpad vat. Dan ken ek skielik alle woorde van Laurika Rauch se Somerkersfees tot by Boney M se Going Back West.
Is net wanneer ek tussen ander mense is wat my geheue my so skielik in die steek laat en ek nie ‘n woord van enige lied kan onthou nie.
Alles ter wille van my selfbeeld sien. Hulle het my mos hoeka in standerd 4 uit die skoolkoor gegooi… sug.
Hoe dit ook al sy, dis musiek wat ons aan die gang hou. Soos in, the wheels of the bus go round and round, round and round, round and round… Sela!
