Ouma pot stormende bul tussen die oë met baksteen
Mev. Marie Pieterse is erg beseer in die hospitaal opgeneem, maar het gelukkig mooi herstel.
Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaanjaar en ons kyk nou weer terug na ongewone nuusgebeure wat deur die jare hier afgespeel het, en die interessante mense wat hier gewoon het:
In 1986 het ‘n verwoede bul – byna soos Goliat van ouds – geleer dat mens nooit jou teenstander moet onderskat nie. Selfs al is sy ‘n oumatjie van byna 70-jaar!
Vaalweekblad het in November daardie jaar die voorreg gehad om een van ons gebied se kleurryke inwoners, mev. Marie Pieterse (toe 69), in Vereeniging se ou hospitaal te ontmoet nadat sy in ‘n onderonsie met ‘n rondloperbul betrokke was.
Ouma Marie se kalm en heldhaftige optrede het waarskynlik gehelp dat die tweestryd nie baie slegter vir haar afgeloop het nie.
Sy het uit haar hospitaalbed vertel dat sy die betrokke middag in haar huis op hul hoewe besig was toe sy hoor dat haar honde erg tekere gaan. Sy is buitentoe en het gesien dat ‘n klomp beeste van ‘n buurman besig was om in die pad voor haar huis te loop. Sy wou die tuinhek toemaak om te keer dat hulle inkom en haar plante plattrap maar voor sy dit kon regkry, het ‘n bul met ‘n woeste vaart op haar afgestorm. Hy het haar met sy horings in die sy gegaffel en haar gegooi dat sy doer trek. Sy het teen ‘n sifdraad te lande gekom en was net besig om regop te kom en haar klere reg te trek toe hy weer storm. Sy het met haar arms probeer keer dat sy horings haar weer tref maar sy was vinnig weer onderstebo. Die befoeterde bul het ‘n entjie weggestap en terwyl sy nog op die grond was, het sy ‘n baksteen raakgevat.
“Bloed het uit my kop gestroom en ek was bang ek gaan my bewussyn verloor, maar gelukkig het ek my positiewe behou en besef ek moet nugter bly. Toe hy die derde keer vir my kom, mik ek sekuur en gooi hom reg tussen die oë met die baksteen,” het sy vertel.
Dit het die bul blykbaar groot genoeg laat skrik om die aftog te blaas. Ouma Marie het bebloed en met ‘n seer lyf huis toe gestrompel, waar sy haar buurvrou gebel het. Dié het haar dadelik na die Vereeniging-hospitaal geneem, waar sy met beseerde longe, seer spiere en bloukolle oor haar hele lyf opgeneem is. Sy het ook ‘n slegte wond aan haar voorkop opgedoen, wat met steke geheg moes word.
Gelukkig het sy mooi herstel en daarna nog etlike jare op haar hoewe gewoel en werskaf. Die bul het blykbaar daarna ‘n ontsag vir die oumatjie gehad en van toe af wye draaie om haar en haar huis geloop.

