Kollegepark kuier by Siesta en Jeugland
Lekker om te sien hoe ons plaaslike laerskole uitreik en help. Kollegepark julle is 'n voorbeeld vir ander!
VANDERBIJLPARK. – Inwoners van Huis Siesta is lekker verras toe ‘n groep leerders van die Laerskool Kollegepark op 23 November kom kuier het.

Hul liefdadigheidsprogram vir die dag het ‘n konsert en ‘n boodskap van hoop vir Kersfees ingesluit.
Die Kollepark maats het ook aan 105 inwoners geskenke uitgedeel en daar was lekker kos wat deur die ouers van die skool se pom-poms en dansgroep voorsien is.
Beide die pom-pom meisies en die dansgroep het ook opgetree en daar is lekker saamgesing op Bernice West se Lyfie.

Die inwoners het saamgedans en gesing en die Kollegeparkers het gesorg dat elke inwoner ten minste een drukkie kry sodat hul weet hulle is spesiaal.
Na die lekker funksie het daar genoeg kos oorgebly om ook die Matwala Children’s home te gaan bederf.

‘n Paar dae later het die Diensbaarheidspan ook by Jeugland gaan geskenke, drukkies en liefde uitdeel en is daar lekker gesing en gekuier.
Op die skool se Facebookblad het Laerskool Kollegepark gesê: “Kollegepark is trots op ons onderwysers, kinders en ouers. Saam kan ons ‘n groot verskil maak in die gemeenskap.”
Meer foto’s en video’s op Laerskool Kollegepak se Facebookpage.
