Politieke moorde plaas veiligheid van Vaal-raadslede onder die soeklig
Die veiligheid van poltieke figure was nog altyd 'n bron van kommer.

VANDERBIJLPARK – Die moord op die DA-raadslid Michael Thulani Mbana in Sasolburg en Midvaal Munisipaliteit se soektog na vier persoonlike lyfwagte plaas die veiligheid van plaaslike politici onder die soeklig. Dit volg nadat bekend gemaak is dat 20 mense wat by die politiek betrokke was, reeds in die aanloop tot die munisipale verkiesing vermoor is.
Volgens die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NATJOINTS) is sewe van dié moorde in Gauteng aangemeld, ses in KwaZulu-Natal, drie in die Wes-Kaap, twee in die Oos-Kaap en een elk in die Vrystaat en Noordwes.
Luitenant-generaal Tebello Mosikili, adjunk-nasionale polisiekommissaris en voorsitter van NATJOINTS, het Sondag 1 November tydens ’n mediakonferensie in Pretoria gesê die slagoffers sluit politieke verteenwoordigers, partylede en ondersteuners in.
Sewe mense is tot dusver in verband met die moorde in hegtenis geneem.
Die jongste syfers volg enkele dae nadat Mbana, DA-koukusleier en raadslid van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, op Maandag 26 Oktober by sy huis in Zamdela, Sasolburg, doodgeskiet is.

Mbana se dood, net nege dae voor die munisipale verkiesing op 4 November, het opnuut vrae oor die veiligheid van plaaslike politieke verteenwoordigers laat ontstaan.
Die polisie ondersoek die moord, maar die motief is nog nie vasgestel nie. Daar is ook nog nie bevestig dat sy dood polities gemotiveerd was of dat dit deel vorm van die 20 moorde wat NATJOINTS aangemeld het nie.
Intussen het die DA-beheerde Midvaal Plaaslike Munisipaliteit op 22 Oktober vier poste vir lyfwagte geadverteer om onder meer die uitvoerende burgemeester, speaker en ander hooggeplaastes wat as veiligheidsrisiko’s beskou word, te beskerm.
Die poste bied ’n totale jaarlikse vergoedingspakket van R459 939,20 elk, wat op sowat R1,84 miljoen per jaar vir al vier poste neerkom.
Volgens die advertensie sal suksesvolle kandidate verantwoordelik wees vir die persoonlike beskerming van die betrokke ampsdraers, die beveiliging van lokale en die voorafbeplanning van veilige reisroetes.
Aansoekers moet onder meer oor ’n kwalifikasie in persoonlike beskerming, ’n geldige vuurwapenlisensie en minstens twee tot drie jaar toepaslike ondervinding beskik.
Die aanstellings is vir vaste termyne wat aan die betrokke ampstermyn gekoppel is.
Die advertensie is vier dae voor Mbana se moord geplaas. Daar is geen bevestigde verband tussen die moord en Midvaal se werwingsproses nie. Dit is ook nie bekend of die poste nuut geskep is, bestaande vakatures gevul word of enige spesifieke veiligheidsdreigemente tot die besluit aanleiding gegee het nie.
Mosikili het intussen bevestig dat 139 strafsake wat met die verkiesingsproses verband hou, landwyd geregistreer is. Altesaam 48 verdagtes is in verband met dié sake in hegtenis geneem.
Die polisie het spesialisondersoekers, insluitend lede van die taakspan vir politieke moorde, ingespan om die moorde te ondersoek.
Veiligheidsmaatreëls is ook by stembusse verskerp, terwyl die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag op bystand geplaas is om die polisie waar nodig te ondersteun.
Die munisipale verkiesing vind Woensdag 4 November plaas.
