Midvaal laat R22-miljoen waterpypleiding na Risiville aanlê om wateronderbrekings te verhoed
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het ’n waterpypleiding ter waarde van R22-miljoen laat aanlê om wateronderbrekings in Risiville te verhoed.
MIDVAAL. – Die projek is onglangs voltooi.
Risiville, wat onder die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit val maar aan die sukkelende Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit grens en van dié munisipaliteit se pypleiding afhanklik was, het voorheen erg onder wateronderbrekings gebuk gegaan.
“Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se aanhoudende wateronderbrekeings het inwoners en ondernemings in Risiville nadelig geraak en hulle dikwels vir lang tydperke sonder water gelaat.
“Die nuwe pypleiding sal water direk vanaf Rand Water se voorsieningspunt na Risiville herlei,” lui ’n verklaring wat Maandag (12 Desember 2022) deur die kantoor van Midvaal se uitvoerende burgemeester, rdh. Peter Teixeira, uitgereik is.
Die hoë-digtheid-poliëtileen waterpypleiding is bykans 7km lank en sluit gepaardgaande infrastruktuur soos ’n drukbestuurinfrastruktuur, watermeters, watertoevoerkleppe en drukverlagingspunt in.
Teixeira, wat onlangs 365 dae in die burgemeesterstoel gevier het, het die voltooïing van die pypleiding in ’n verklaring as nog ’n mylpaal van sy adminisie beskryf.
“Toegang tot veilige drinkwater is ’n basiese mensereg en ons as administrasie is daartoe verbind om water in grootmaat sonder onderbrekings aan ons mense te voorsien,” sê hy.

