Local newsNewsNews

Ruan Vermaak – passievol en doelgerig

Ruan Vermaak is onlangs as die GTCoC se Junior Sakeman van die Jaar aangewys. Die man werk hard en droom groot. Lees meer.

VANDERBIJLPARK. – Hy is net 26 jaar oud, maar sy sakeonderneming staan sterk. Ruan Vermaak is onlangs as die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC) se Junior Sakeman van die jaar aangewys.

Ruan en sy span waarop hy baie trots is.

Met rede. Hierdie jongman gryp elke uitdaging en geleentheid met albei hande aan. Hy werk hard, tot 18 ure per dag, maar sê dis sy passie. Hy geniet wat hy doen.

Dit het op skool al begin. Ruan was 16 toe hy begin DJ het vir die SA Music Group. Nadat hy in 2014 aan die Hoërskool Overvaal gematrikuleer het, wou sy ouers hê hy moes gaan swot.

Hy wou nie. Dis toe dat sy pa, Martin vir hom gesê het hy gee hom ‘n jaar. As hy in ‘n jaar nie ‘n besigheid van die grond af het nie, moet hy gaan studeer.

Ruan en sy troetelpapegaai, Boesman

Dit was die uitdaging waarop Ruan gewag het en in 2015 het hy MagiCo begin, of dan eintlik R&R Productions. Met harde werk en baie deursettingsvermoë het die maatskappy gegroei.

In 2018 het hulle besluit om die naam te verander, aangesien daar reeds besighede met soortgelyke name was. MagiCo het die lig gesien. Dis ‘n besigheid wat klank, musiek, beligting en verhoë vir buitelug byeenkomste en feeste verskaf.

Oor die jare was hulle by verskeie groot feeste betrokke, onder andere die Tekkiefees, Outdoor X , die Glimlagfees en in Desember hanteer hulle Afrikaans is Groot in Hartenbos.

Martin en Ruan Vermaak geniet diepsee duik

“Ons is bevoorreg,” vertel Ruan, “ons is ‘n klein maatskappy uit die Vaaldriehoek en word regoor die land tot selfs in Botswana en Namibië ingespan.”

Hy is baie trots op sy span en sê dis slegs met almal se ondersteuning en samewerking wat hul die werk gedoen kry. Hy is ook dankbaar vir sy vennote, ouers en sy hart se punt, Alice de Jager wat hom ondersteun deur die goeie en moeilike tye.

Die pandemie was ‘n groot uitdaging, want vir die eerste nege maande het die vermaaklikheidsbedryf tot stilstand gekom.

Ruan het nie gaan stilsit nie, hy het gou besef daar is ‘n behoefte vir mense om begrafnisse aanlyn te kan bywoon en het ‘n aanlynstromingsdiens van begrafnisse begin.

Nou se dae is hul weer voltyds aan die gang met die funksies en feeste. “Ons is baie besig, waarvoor ek dankbaar is. Die mense is nou weer lus om uit te gaan en dinge by te woon,” sê hy.

Hy erken hulle werk onder baie stres, maar sê hulle is dit al gewoond. “Jy weet, ons Suid-Afrikaners is mos maar altyd in survival mode en dit het ons geleer om enige iets self te doen.”

Ruan Vermaak, sy vennoot Susan Strauss en Tata se verkoopsdame met die aankoop van MagiCo se eerste trok.

Hy dink heeltemal buite die kassie en probleemoplossing is vir hom tweede natuur. Een van Ruan se motto’s in die lewe is: ‘‘n Man without a dream is a dead man.”

Hy sê hy het by sy pa geleer om te droom en by hom geleer van harde werk, dryfkrag en deursettingsvermoë.

“Ek glo dat jy moet werk vir wat jy wil hê. Die geleenthede is daar, maar elke geleentheid het sy uitdagings. Embrace die uitdagings en maak dit lekker vir jouself. Dit gaan oor wat jy van elke situasie maak.”

Alhoewel Ruan dit geniet om oorsee vakansie te hou en met sy werk al Suid-Afrika platgetoer het, beskou hy die Vaaldriehoek as ‘n verskriklike lekker plek. “Die Vaaldriehoek het ‘n huis-gevoel. Dis hier waar ek wil en gaan bly,” beduie hy beslis.

Wanneer hy die kans kry hou hy sy lyf jagter en diepseeduiker. Al hou die werk hom goed besig sê hy: “Ek is elke dag gelukkig. Ek doen waarvan ek hou.”

Die jongman het inderdaad een van die groot geheime van die lewe op ‘n jong ouderdom ontdek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button