Vaal se Monique dra die kroon – Miami wink
Die Vaal se eie Monique Taylor het nou deurgedring na die Ms Universal World kompetisie. Lees meer
MIDVAAL. – Monique Taylor is 10 Desember as Mr/Ms Royal International gekroon. Sy het ook met die etrepeneurskroon weggestap.
Hierdie titel gee haar nou toegang tot die Ms Universal World kompetisie wat volgende jaar in Miami in die VSA gaan plaasvind.

‘n Paar maande gelede het Monique aan Vaalweekblad gesê: “Ek word hierdie jaar 40 en dit sal my grootste verjaardaggeskenk ooit wees as ek die Mrs Royal International-titel kan verower.
“Ek het gehoor Mrs World gaan in die vorm van ‘n realiteitsprogram opgeneem word en elke deelnemer gaan oral gevolg word deur ‘n filmspan, kompleet met ‘n lyfwag,” het sy vertel.
Nou het hierdie droom waarheid geword. Sy kon Sondag, 10 Desember nog nie glo dat sy gewen het nie en het laat weet sy is super opgewonde en baie dankbaar.
Vir Monique gaan dit oor veel meer as die titel. Mrs Royal International is ook ‘n werkstitel wat haar die geleentheid bied om die projek naaste aan haar hart te bevorder.
“Ek het ‘n baie sagte plek vir vrouens wat emosioneel en fisies mishandel word. Dis hoekom ek by Project Rage betrokke geraak het.
Die stigma van stilbly moet gebreek word. Ek glo nie daaraan om net te sit en mooi lyk nie, ‘n mens moet inspring en doen ook.”
