Leomand (8) se hart klop gholf
Laerskool Kollegepark spog met 'n 8-jarige gholf kampioen. Lees meer...
VANDERBILJPARK. – Hy kon skaars loop toe begin hy al gholfballe slaan. Plastiese speelgoed gholfstokke het nie vir hom gewerk nie. Een hou en die gholfstok was stukkend.
Dis toe dat Armand en Chantél Jacobs besluit het om vir Leomand ‘n regte miniatuur gholfstel te koop.

Die res, soos hul sê is geskiedenis. Leomand was, en is, gek oor gholf. Hoe dan ook anders as pa Armand die eienaar van ‘n gholf akademie is?
Gholf pols in sy are. Armand sê hy het destyds al gesien die kleine Leomand het ‘n perfekte swaai. Nogal links om al is hy regshandig.
Hierdie jaar het die agtjarige Leomand vir die eerste keer aan toernooie begin deelneem.
“Dit het nie so goed met sy eerste toernooi gegaan nie. Sy afslane was perfek, maar hy het gesukkel met sy setwerk,” beduie Armand.
Alhoewel Leomand links afslaan, het hul agtergekom hy moet regs na die putjie slaan. Met die regte setstok in die hand het die kleinman met elke toernooi verbeter.

Hy het aan twee toer kampioenskappe deelgeneem, die SA Kids en die US Kids Tour Championships.
Laasgenoemde werk op ‘n puntestelsel en Leomand is reeds op Prioriteit Status 10. Die hoogste is 11.
Dit beteken hy word weekliks na internasionale toernooie uitgenooi, maar sy ouers sê hy is nog nie gereed daarvoor nie.
Sy baansyfer oor 9 putjies was 61 na sy eerste toernooi, maar nou se dae stap hy maklik met ‘n baansyfer van 36 van die baan af.
Alhoewel hulle in sy ouderdomsgroep net 9 putjies speel, het hy hierdie jaar al ‘n slag 18 putjies gespeel. Dit was toe hy Laerskool Kollegepark in die Super 12 verteenwoordig het.
Uit die span van vier was hy die enigste graad 2-leerling, die ander was almal in graad 7. Sy pa, wat ook sy afrigter is, mag nie by hom gewees het nie.
Die kleinman het koelkop self al sy besluite geneem en die toernooi op sy eie klaargemaak.
“Ek weet daar is kinders wat tuisonderrig ontvang en verder net gholf speel, maar dis nie wat ons op die stadium vir Leomand wil hê nie.
Hy moet sy ander belangstellings ook ontwikkel en skoolwerk is belangrik,” vertel Armand. Leomand vertel trots dat hy aan atletiek en rugby deelgeneem het.
Hy het veral die rugby baie geniet. Alhoewel hy nie ‘n provinsiale span het nie, is hy ‘n groot Springbokondersteuner.

“By die atletiekbyeenkomste het hy gestaan en gholfbewegings oefen,” lag sy ma. “Ek oefen altyd gholf,” vertel Leomand en knik sy kop instemmend.
“Ons kan hom nie eens ‘n besem gee nie, want dan is alles in gevaar, hy sal summier sy swaaihoue begin oefen,” lag sy ouers weer lekker.
Leomand se groot gholfheld is Rory Mcllroy en nie eens my klaagliedere omdat ek nie weet hoe om die held se van te spel nie, kon hom oortuig om ‘n makliker naam soos Ernie Els te kies nie.
Natuurlik gaan hy eendag ‘n professionele gholfspeler word. Soos hy self sê: “As ek nie gholf het nie, kan ek nie lewe nie.”
