Unieke danskonsert lewer R22 000+ vir liefdadigheid
Wanneer 'n dansstudio hul jaareind vertoning vir liefdadigheid aanpak, gebeur daar groot dinge. Lees meer.
VANDERBIJLPARK. – Just Dance Studio se “Om die wêreld” liefdadigheidskonsert was ‘n groot sukses.
Passasiers wat die vertoning bygewoon het, het om 18:00 aan boord van die spesiale vlug gegaan by Laerskool Kollegepark.

‘n Lugwaardin het hul welkom geheet en hul op hoogte gehou van elke land waar daar besoek afgelê is.
Die konsert wat Vrydag, 9 Desember ten bate van Ons Gryse Jeug in Sasolburg en Chalkboard Champs vir kinders met spesiale behoeftes gehou is, het R22 750 ingewin.

Die twee instansies is die aand met R11 375 elk huis toe. Leandi Goosen, eienaar van Just Dance Studio sê almal het die kleurryke skouspel baie geniet.
“Die kinders van Chalkboard Champs het ook opgetree en daar was min droë oë in die saal.”
Leandi het laat weet sy is super trots op haar span en jong dansers. “Dit was besonders lekker en ‘n fantastiese aand.”

Mirna Vermeulen, mede-eienaar van Chalkboard Champs het op Leandi se Just Dance Studio Facebookblad gesê: “Dankie vir jou. Dankie vir jou liefde vir ons kids, jou groot hart. Dankie, dankie dankie.”

