Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Dit kom nou van te veel gesels. Ek het letterlik en figuurlik oop oë in hierdie een ingestap. Lekker lees...
RUBRIEK. – Daar begewe ek my Saterdag weer in ‘n ding in. Onbeplan, maar ja, nou sit ek met die stywe spiere.
Jy sien, dit het begin met ‘n boodskap van Rozaan Steyn. Hulle gaan 10 Desember by die Emerald Resort & Casino stap, wil ek nie kom foto’s neem nie?
Die hulle is Rozaan en haar MS Warrior-groep wat gereeld staptogte aanpak om vir ander MS-lyers hoop te bring.
Ek laat weet ek sal ‘n draai maak. Hoe laat moet ek daar wees? Kry summier amper ‘n hartstilstand oor die 06:30 antwoord wat ek kry. Ek is nie ‘n oggendmens nie.
Dis ‘n vrolike groepie mense wat my inwag. Almal geklee in tekkies en T-hemde. Ek neem die nodige groepfoto’s en vertel nog so ewe vir Marinda van Emerald dat ek weer gaan wegraak.
Beroemde laaste woorde. So raak ek aan die gesels met iemand toe die prosessie in beweging kom en ek stap maar saam.
Op ‘n kol dag ek miskien moet ek nou groet en omdraai voordat die parkeerarea en my gerieflike motor uit sig verdwyn, maar die gesels hou nie op nie en die spulletjie is al te vrolik.
Vir die wis en die onwis vra ek vir Rozaan hoe ver gaan daar gestap word? “Ag, net so 3.5 km,” verseker sy my.
“Is dit nou 3.5 km tot daar en terug?” wil ek weet, gedagtig aan my gebrek aan tekkies, sonblok, ‘n hoed en die twee skroewe in my enkel.
“Altesaam sowat 3.5 km. Kan minder ook wees,” lag sy vrolik terwyl sy Saartjie, haar loopraam stoot.
Ek dag so by myself, ek sal dit sekerlik oorleef en verskuif die kamerasak so ‘n slag na my ander skouer toe. Ons vorder rus-rus.
Twee brawe jongmanne stoot nog ‘n oom en tannie in rolstoele ook saam. Dit gaan vrolik so met die teerpad langs. Kort-kort klink ‘n “daar kom ‘n kar” op en dan maak ons spasie na die kante toe.
My oog vang daar in die verte die baba-kameelperd waar hy ons vanuit die hoogte beskou. Ek steek dadelik vas om foto’s te neem. Met die dat hy al die mense sien, begin hy sommer bokspring nes ‘n stout kind.

Die pad maak ‘n draai en ek sien die heuwel. “Wow, niemand het my gesê hier is ‘n Polly Shorts berg op die pad nie,” lewer ek dadelik kommentaar. “Rozaan, waar is daardie T-aansluiting waar jy gesê het ons gaan omdraai?”
“Anderkant die ou heuweltjie,” lag sy lekker en ons stap voort. Uiteindelik bereik ons die T-aansluiting waar ons eers weer asemskep voordat ons die terugtog aanpak.
Ek merk daar staan 3.5 op die teerpad geskryf. “Hoe ver dink jy het ons al gestap?” vra ek vir Collette. Ek en sy het mekaar voor die staptog van geen kant af geken nie, maar teen daai tyd voel ons toe al soos boesemvrinne.
“Verder as 3.5 km”, gee sy haar mening. Ons stap voort.
Die son begin agter die wolke kop uitsteek en ek voel hoe warm word my nek. Ek en sy neem die voortou.
Nie omdat ons so fiks is nie. Is net mens kan langer rus as jy sien die ander het bietjie agter geraak!
My bene, rug en gewraakte skroef-enkel begin my aankla van kindermishandeling. Maar ek seg nie ‘n woord daaroor nie.

Die MS-lyers stap in veel groter pyn as ek en hulle glimlag nog al die pad. Die kamerasak word al hoe swaarder.
Uiteindelik is die parkeerarea in sig en sien ek myse Mich blou in die verte blink. “Ag ja, jammer ek is nie Knight Rider nie. Dan het ek wraggies my kar nadergeroep om my te kom haal,” steun ek.
Ons stop by ‘n stopstraat. Ek oorweeg dit om op die sypaadjie te wag, maar skielik lyk die randsteen vir my baie hoog en betwyfel ek my vermoë om my been so hoog op te lig.
Dapper stapper maak ons dit die laaste ent. Terug in die parkeerarea wonder almal hoe ver ons nou eintlik geloop het.
Dis toe dat die een vrou haar selfoon se toep besigtig en daar staan dit toe… 7.35km! Ek word sommer van voor af moeg as ek net daaraan dink. Sela!
