Kersmakietie vir Leeuhof se kinders gehou
Die Mekayla Memorial-kerspartytjie, 'n partytjie wat elke jaar vir die kinders van Leeuhof gehou word, is nou al sedert 2013 'n instelling by Leeuhof.
Vanjaar het Anne-Marie Slabbert en die span wat die partytjie reël weer ‘n glimlag op ongeveer 500 kinders van Leeuhof se gesigte gesit by die Leeuhof-gemeenskapsentrum.
Kinders is bederf met Kersgeskenke, ‘n poppekasteater, worsbroodjies en koeldrank, springkastele en glybane.
Kersvader het ook ‘n draai gemaak!

Die Kerspartytjie is in 2013 begin en is oorspronklink aan Anne-Marie se eie dogtertjie Mekayla (3) opgedra wat in 2010 naby die Leeuhof-kafee in ‘n fratsongeluk gesterf het toe sy deur ‘n vragmotor raakgery is.
Anne-Marie het die eerste Kerspartytjie vir minderbevoorregte kinders van Leeuhof in 2013 voor haar huis in Leeuhof gehou. Dit was die begin van die jaarlikse Mekayla Memorial-kerpartytjie: ‘n Geleentheid waar Leeuhof se kinders, wat byna almal uit gesinne kom waar daar groot werkloosheid en armoede heers, vir ‘n dag lank die dag lank die vreugde van Kersfees kan beleef.

Dit was vanjaar die negende jaar wat die partytjie gehou word en die aantal kinders wat die partytjie bywoon groei elke jaar. Daar was ongeveer 250 kinders by die eerste partytjie en vanjaar ongeveer 500.
Volgens Anne-Marie is daar baie kinders wat nie vreugde van Kersfees ken nie en nie bevoorreg is om dit met geskenke te vier nie.

Anne-Martie sê die gemeenskap van Leeuhof en die buurt se kinders lê haar baie na aan die hart. Die gemeenskap het haar immers bygestaan en deurgedra met haar dogtertjie se sterfte en haar in ‘n tyd van smart vertroos. Anne-Martie onthou hoe sy destyds oorval is met kaartjies en mense het selfs ‘n fondsinsameling vir haar gehou.
Sy sê: “Leehof is ‘n gemeenskap wat na aan mekaar is en ‘n gemeenskap wat saam staan. Dit is wat so na aan my hart is aan hierdie gemeenskap. Baie mense dink Leeufhof is hierdie slegte plek. Ek raak kwaad as mense sleg oor Leeuhof en sy mense praat. Hulle is nie hier om ons situasie te sien nie.”

Anne-Marie erken dat daar baie maatskaplike probleme in die buurt is en dat sommige inwoners vasgevang is in ‘n bose kringloop van middel- en alkoholmisbruik. Sy meen egter dat dit moontlik is om die siklus, wat van generasie tot generasie oorgedra word te breek.
Sy droom daarvan om die gemeenskapsaal te omskep in ‘n plek waar kinders kleuterskool kan bywoon en waar sop aan behoeftige inwoners uitgedeel word; ‘n plek waar lede van die gemeenskap kan aanklop ‘n tye van nood.
Besoek die Mekayla Memorial NPC-Facebookgroep om meer uit te vind oor hoe jy tot hierdie projek kan bydra.


