Die Vissers sê totsiens, nie vaarwel
Bertie en Sonia Visser het geen bekendstelling nodig nie. Die oudhoof van Transvalia en sy vrou het vir 36 jaar ‘n groot impak op die Vaal en sy mense gehad. Lees meer.
VANDERBIJLPARK. – Bertie en Sonia Visser was vir 36 jaar deel van die lief en leed van die Vaal. 8 Desember het hul die groot trek aangepak na ‘n splinternuwe seisoen en avontuur in Pretoria.
Beide het ‘n massiewe impak op die Vaal se mense gehad en hul permanente teenwoordigheid gaan gemis word.
Bertie het in Springs grootgeword en in Delmas gematrikuleer. Daarna het hy sy BSc aan die PU vir CHO behaal. Vele grade en diplomas het oor die jare gevolg.
Pas klaar met sy verpligte diens in die weermag het hy as Biologie onderwyser by Potchefstroom Gimnasium begin.

In 1974 is hy en Sonia getroud en op 7 Desember vanjaar het hulle hul 48ste huweliksherdenking gevier.
In 1986 het hul na Vereeniging verhuis nadat Bertie die pos as senior adjunkhoof by Hoërskool Vereeniging aanvaar het.
Drie jaar later het hy ‘n groot droom van hom verwesenlik toe hy aangestel is as skoolhoof van Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark. Op daardie stadium was hy net 36 jaar oud!
Sonia se loopbaan het ook van krag tot krag gegaan. Sy was in die mediese versekeringsbedryf en het later ook opleiding gegee. In 1989 is sy aangewys as Nasionale Verkoopsbestuurder van die jaar.
“Ons doen dinge saam en het mekaar al die jare in ons onderskeie loopbane ondersteun,” het Bertie gesê. “Hierdie rooikop van my is ‘n ongelooflike mens,” het hy bygevoeg.
In hul jonger dae het Bertie uigeblink in atletiek, veral die 800m en dan het hy ook marathons kafgedraf. Sonia was weer ‘n gimnas. Nou se dae neem hul nie meer aan sport deel nie, maar beide swot nog steeds.
Sonia wat jare gelede al haar MBA in Finansies agter haar naam geskryf het, het die afgelope klompie jare begin om navorsing in breinontwikkeling te doen.
Dit was nadat Bertie in 2010/11 ernstig siek geword het en die dokters hom vir jare verkeerdelik met depressie gediagnoseer het.
Eers in 2016, nadat hy weer ‘n insinking beleef het, en Sonia aangedring het op ‘n breinskandering is daar besef dat hy in 2010 breinvliesontsteking gehad het.
Omdat hy nie die regte medikasie gekry het nie, het van die breinvliese verhard. Met die regte behandeling gaan dit nou weer stukke beter.
Bertie het weer op 70-jarige ouderdom begin swot en 98% vir sy kursus in neuroplastisiteit verkry. Die twee is gekwalifiseerde studie- en lewensafrigters en bied werkswinkels aan om kinders se LQ (lewens intelligensie) te ontwikkel.
“Ons het op die oomblik 80 kinders in die Vaaldriehoek wat ons help. Die dat ons sê dis totsiens, maar nie vaarwel nie. Ons het nog werk om hier te doen,” vertel hul vrolik.
Lekker lag en ‘n passie vir die lewe maak hierdie dinamiese duo ‘n besonderse paartjie om te ken. Hulle bly optimisties, al het die lewe al meer as een keer sy donker kant vir hulle gewys.
In 2017 moes Sonia vir ‘n nood rugoperasie in Pretoria gaan en het hulle vyf maande by hul seun, Nico gebly. Hulle was skaars terug in die Vaal toe hul die verskriklike nuus gehoor het dat Nico in ‘n motorongeluk oorlede is.
Twee jaar later is Bertie se broerskind ook oorlede. Hul kleindogters in Pretoria was een van die groot redes wat hul laat besluit het om na hul “vakansieplaas”, ‘n huis by Swallow Valley Farm, te trek.

Hul gaan by hul dogter Marlizette en hul kleinseun Clarence woon. Clarence het sy graad 8 en 9 by sy oupa se skool, Transvalia voltooi, maar nou vat hy sy grootouers saam Pretoria toe.
Nie dat daar van stilsit sprake is nie. Die Vissers gaan aan met hul studies en lewensafrigter-werk en dan is Sonia sommer al klaar ingetrek by die Dameskring.
Vir die Vaal se inwoners het hul ‘n spesiale boodskap: “Baie dankie vir 36 wonderlike jare en vir al die wonderlike mense en vriende wat ons in die Vaal het. Julle was vir ons ‘n belewenis. Ons sal jul nie vergeet nie.”
