Dapper stappers vir MS bewusmaking
Veelvuldige Sklerose (MS) is 'n verskriklike siekte, maar Rozaan en haar span stap om ander hoop te gee.
VANDERBILJPARK. – Rozaan Steyn se MS Warriors het dit weer gedoen. Hierdie vrolike donkerkop het geen einde nie.
Saterdag, 10 Desember het sy, haar ouers, stapvriende en ander veelvuldige sklerose (MS) lyers reeds vroegdag by die Emerald Resort & Casino vergader. Hul doel was om bewusmaking vir die verskriklike siekte te skep.

Met kieries, looprame en selfs in rolstoele het hulle die pad vrolik aangedurf. Rus-rus as die pyn te veel word, maar uitgehou en aangehou het hulle.
Rozaan het in haar verwelkoming almal bedank wat opgedaag het en gesê die dag word spesiaal opgedra aan twee van hul MS-vriende wat op die stadium ernstig siek is.
Sy het ook gevra dat mense met elke tree aan hul sal dink. MS is ‘n wrede en moeilike siekte en juis daarom wil Rozaan ander MS lyers hoop gee.
Met haar wandelstok Freddie en loopraam Saartjie, is sy en haar ouers, Steyn en Ansie, gereeld aan’t oefen vir ‘n volgende uitdaging.

Vanjaar het hul onder meer Tafelberg uitgeloop en volgende jaar wink die Sasolburg marathon.
“Bid asseblief vir ons MS-lyers dat ons nie moed sal verloor en vir ons gesinne wat ons elke dag bystaan met hierdie moeilke pad wat ons stap,” het Rozaan ‘n pleidooi aan almal gerig.
