Die visse het goed gebyt
Die visse het baljaar by die o.13 SA Kampioenskappe, lees meer...
SASOLBURG. – Die Hap en Kap Hengelklub is super trots op een van hul penkoppe.
Meandro Pieters, een van die o.13 hengelaars het onlangs uitgeblink by die o.13 SA Kampioenskappe wat by Bloemhofdam gehou is.

Hy was deel van die Vrystaatspan wat teen die Westelike Provinsie, Gauteng Noord B, Sentraal Noordwes B, Gauteng Noord A, Noordoos Mpumalanga A, Sentraal Noordwes A, Limpopo A en Gauteng A gevang het.
Die visse het die Vrystaters laat bontstaan en van 12 tot 14 Desember het hul 1 460 vis gevang met ‘n gesamentlike gewig van 1 348,929 kg. Dit het hul dan ook ‘n eerste plek besorg.
Meandro het uitstekend gevaar en het 41 vis kant toe gebring. Sy harde werk is beloon toe hy algeheel tweede as Victor Ludorum aangewys is.
Hy is ook uitgenooi na die nasionale proewe wat oor die naweek van 16 Desember in Bloemhof plaasgevind het.
