Emfuleni nie in staat om salarisse vir Desember te betaal nie
'n Brief wat deur die waarnemende munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, Refilwe Mokgosi, uitgereik en onderteken is dui aan dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit tans nie in staat is om sy werkers vir die maand van Desember te betaal nie.

VANDERBIJLPARK. – In die brief gee Mokgosi te kenne dat die munisipaliteit tans uitdagings ervaar om die betalings vir Desember te prosesseer weens die feit dat Eskom die munisipaliteit se bankrekening laat vries het weens agterstallige skuld.
“Die senior bestuur is besig om die saak uit te klaar en sal werknemers op hoogte hou van die vordering. Die munisipaliteit skakel deurlopend met die kantoor van die premier en Eskom,” skryf Mokgosi in die brief.
Die DA-in die Vaal-streek het in ‘n verklaring gesê die brief bied geen uitklaring of die munisipaliteit sy kontraktuele verpligtinge sal nakom en die salarisse sal uitbetaal nie.
“Dit is jammer dat die wanbestuur van die munisipaliteit so ‘n impak op soveel gesinne sal hê in ‘n tyd wanneer toegang tot banke beperk is. Die nie-betaling van salarisse sal egter ook ‘n impak op dienslewering hê aangesien ontevrede personeel motivering verloor om hul pligte na te kom,.” meen Dennis Ryder, die DA se voorsitter in die Vaal-streek.
Ryder meen die mees kommerwekkende aspek van die brief is dat die munisipaliteit nou vir Eskom blameer oor hy die munisipaliteit se bankrekening laat vries het.
“Ons moet in gedagte hou dat dit gedoen is in uitvoering van ‘n bevel van die hof, en dat hierdie aksie eers geneem is nadat Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit herhaaldelik van ooreenkomste met Eskom afstand gedoen het. Swak bestuur en swak begroting het gelei tot die onvermoë om hul verpligtinge na te kom, en die optrede van Eskom is die aksies wat enige krediteur in soortgelyke omstandighede sou neem,” sê Ryder.
“Die optrede deur Eskom, die versuur van die verhouding met Rand Water en nou die onvermoë van die munisipaliteit om salarisse te betaal, is ‘n bevestiging dat die opheffing van die Artikel 139-ingryping deur die Gauteng Provinsie beide voortydig en misleidend was,” sê hy.
Ryder meen terwyl dit algemeen aanvaar word dat die administratiewe ingryping min of geen impak gehad het nie, die destydse LUR vir samewerkende regering, Lebogang Maile, toe in plaas van om oor te gee, ‘n meer intensiewe ingryping gevra het.
“Die DA eis dus weer dat die Emfuleni-raad in terme van artikel 139.5 van die grondwet ontbind word en dat kiesers die geleentheid gegee word om ‘n nuwe leierskap te verkies sodat die mislukkings van die raad reggestel kan word en die munisipaliteit sy grondwetlike mandaat kan nakom,” sê Ryder.

