Local newsNews

Afrika se vuurloper-Superman verruil sy mantel vir ’n Viking-helm

Kinderjare vol siekte en pyn het Vereeniging-gebore Cobus Visser voorberei vir 'n lewe van diens aan ander

 

VEREENIGING. – Suid-Afrika se prestasie-afrigter en bekende “vuurloper”, Cobus Visser, het die afgelope dekade naam gemaak as Afrika se Superman. Op 2 November vanjaar, op sy 40ste verjaardag, het hy ‘n handelsmerk-transformasie ondergaan met die bekendstelling van sy nuwe persona, Cobus Visser die Viking.

Hierdie agterkleinseun van Suid-Afrika se eerste staatspresident, C.R. Swart, is in Vereeniging gebore en het op ‘n jong ouderdom reeds met terugslae en pyn kennis gemaak. Nadat hy as kind met hemofilie gediagnoseer is en jare lank ondraaglike pyn verduur het, het hy hom in ‘n stadium in die hospitaal bevind en kon nie beweeg nie. In plaas daarvan om op te gee, het hy besluit sy liggaam sal nie meer sy tronk wees nie.

Cobus het aanvanklik die Superman-persona aangeneem toe hy met die fiktiewe held se alter-ego, Clark Kent, geïdentifiseer het. “As kind moes ek dikwels siek by die huis bly. My pa het dan Superman-flieks gehuur om my te vermaak. Ek het by Clark Kent aanklank gevind omdat ek skaam en teruggetrokke was. Ek is ook geboelie omdat ek anders was. Met verloop van jare het vuurloop my superkrag geword, en deur die mantel van Superman te dra, het dit my toegelaat om werklik te leef en te groei. Dit het my laat voel asof niks onmoontlik is nie.”

Cobus beskou vuurloop as ’n metafoor om jouself te ontdek en jou te help fokus op wat jy wil bereik. Om dié rede het hy besluit om daarin te spesialiseer en het sy opleiding in 2012 aan die Firewalking Institute of Research and Education in Amerika voltooi.

Intussen het Cobus ‘n skrywer, spreker, fasiliteerder, lewensafrigter en vuurloop-instrukteur van formaat geword. Nadat hy verskeie persoonlike en professionele mylpale behaal het, insluitend om Kilimanjaro in 2018 op krukke te klim, het hy gevoel die tyd is nou ryp om sy handelsmerk-identiteit te hersien.

Vir Cobus was die besluit oor sy nuwe persona as Viking vanselfsprekend omdat sy waardes van nature ooreenstem met dié van die Vikings. “Daar is nege Viking-waardes: hart, moed, deursettingsvermoë, eer, dissipline, optrede, konsekwentheid, waarheid en getrouheid. Dit resoneer op ’n diep vlak met my. My doelwit vorentoe is om nie net hierdie waardes in my eie lewe te omhels nie, maar om ander aan te moedig en te inspireer om dieselfde te doen,” verduidelik hy.

Hy is vandag wyd bekend vir sy inspirerende motiveringsprogramme vir jonk en oud, wat veel meer as net vuurloop behels. Hy het nou ook ‘n unieke bemagtigingsprogram vir mans genaamd Viking Circle of Warriors “Wolfpack” – Where great men become warriors. Dit fokus daarop om mans te help om krygers in hul persoonlike lewe te word.

“Ek wil mans uitdaag om op te staan vir wat reg is en om dit met eer en empatie te doen. Ek wil hê hulle moet weet dat hulle ’n lewe van topprestasie kan lei. Ek wil ook ’n boodskap van onvoorwaardelike liefde en hoop vir môre met ander deel. Elkeen van ons is tot soveel meer in staat en ons kan enigiets bereik wat ons besluit om te doen,” sê hy.

Cobus het ’n onversadigbare behoefte om ander te help en om ten spyte van konstante pyn, voortdurend te groei en homself uit te daag. Met die nuwe handelsnaam as “Viking” hoop hy om homself as ’n wêreldleier in topprestasie-afrigting te vestig. En soos hierdie Superman wat Viking geword het reeds bewys het, is niks onmoontlik nie.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:
https://www.facebook.com/CobusVisserViking8
Instagram:   https://www.instagram.com/cobusvisserviking
Webwerf: www.cobusvisser.com 

 

 

Foto: Cobus Visser, wat ‘ n ver pad geloop het sedert sy kinderdae in Vereeniging.

Cobus Visser begelei een van sy programdeelnemers om suksesvol oor vuurwarm kole te loop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button