4 Eva Young – Vaal se rocksterre skitter
Die Vaal se 4 Eva Young Rock band is op pad na groot hoogtes. Lees meer...
MEYERTON. – Die Vaal spog met ‘n ‘rock band’ met die jongste lede in die land. Die vier jongelinge is die afgelope twee jaar besig om opslae te maak waar hul gehoor word.
4 Eva Young bestaan uit Caitie Rock, Zandri Bezuidenhout, Johan van Rooyen en Ruben Herbst.

‘n Paar jaar gelede het Caitie en Johan albei aan ‘n sangkompetisie deelgeneem waar hul goed gevaar het.
Daarna het Caitie vir Johan gevra dat hul saam ‘n duet moet opneem. Heelwat tyd het verloop voordat hulle uiteindelik so ver gekom het.
Zandri se pa het die liedjie vir hul opgeneem en dis waar die gedagte vir ‘n ‘band’ ontstaan het.
Johan het sy vriend, Ruben nadergetrek om kitaar te speel en kort voor lank het Zandri die tromme oorgeneem.
Sy is die jongste lid en is volgende jaar in graad 5 by die Laerskool Risiville. Ruben is volgende jaar in graad 6 by Laerskool Midvaal waar Caitie onlangs as hoofmeisie aangewys is. Johan sluit hom by Hoërskool Dr. Malan aan in 2023.
Die vier oefen gereeld saam en is groot vriende. Hulle het van die begin af sukses behaal in die musiekwêreld en het al vir groot name in die bedryf geopen, van Steve Hofmeyr tot Dozi.
Een van hul gunstelingvertonings was onlangs by The Bar with No Name waar hulle vir die Heuwels Fantasties geopen het.
Dan was daar hierdie jaar ook hul vertoning by Aardklop wat by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou is. Die viertal kan nie uitgepraat raak oor die monument en wat hul alles daar gesien en beleef het nie.
Hulle werk tans aan hul eerste album, maar daar is reeds verskeie liedjies wat aanlyn beskikbaar is. Dit sluit ‘Sunny Day’ en ‘Ek’s net ‘n kind’ in wat gereeld oor radiostasies landwyd gehoor kan word.
Hulle beskryf hul musiek as ‘iets van alles’ aangesien hul repetoire liedjies insluit oor verskeie genres van Afrikaans tot Gospel en Rock. Gaan kyk gerus na hul video’s op YouTube.
Die kanaal se naam is 4eva young band. Alhoewel musiek baie van hul tyd in beslag neem, laat die vier nie slaplê met akademie en sport nie.
Hulle werk hard en droom groot. Caitie wil eendag veearts word en dan wink daar ook nog ‘n musiek- en dramaloopbaan.
Johan reken musiek sal altyd sy stokperdjie bly, maar hy wil graag ‘n mikrobioloog word. Zandri is vasbeslote om na skool haarself as ‘n narkotiseur te bekwaam. Ruben beplan net eers om deur die laerskool te kom en as dit kan, ook hoofseun te word.
Hul sien uit na hul onderskeie Desembervakansies en dan kan hul ook nie wag om eendag almal hul stempel by Dokkies af te druk nie.
