Midvaal stuur padveiligheid-veldtog van stapel
Padblokkades word opgeskerp en daar sal hierdie feesseisoen nulverdraagsaamheid ten opsigte van wetteloosheid op die paaie wees.
MIDVAAL. – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir paaie en publieke veiligheid, rdl. Gerrit Viljoen, en die verkeershoof, Anna Mpai, het Woensdag (21 Desember 2022) die verkeersdepartement se padveiligheid-veldtog vir die feesseisoen van stapel gestuur.
Die plaaslike owerhede waarsku dat padblokkades opgerig sal word en dat wetstoepassing gedurende die feesseisoen verskerp sal word.
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se verkeersdepartement het ’n beleid van nulverdraagsaamheid as dit kom by dronkbestuur en wetteloosheid op die paaie.
Die padveiligheid-veldtog vir die feesseisoen het hierdie afgeskop met padblokkades op die Jim Fouché-pad. Die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, rdh. Peter Teixeira, het ook aan die veldtog deelgeneem.
Lede van die gemeenskap is by die padblokkade begroet terwyl pamflette oor padveiligheid en geskenke ook uitgedeel is.
Lede van die gemeenskap kan verwag om meer verkeersbeamptes gedurende hierdie tyd op die paaie te sien.
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het weer eens ‘n beroep op inwoners gedoen om veilig te bly tydens die feesseisoen.

