Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Tong in die kies brief aan Vader Krismis, met Kleinsus Antjie wat ook weer 'n bietjie aangelas het. Lees meer.
RUBRIEK. – Liewe Vader Krismis. Dis weer daai tyd van die jaar. Krismis is om die draai en hier kry ek nou eers kans om vir jou te skryf. Die tyd het bietjie onder my uit gehardloop.
So van tyd gepraat, kan jy nie bietjie vir Vader Tyd vra wat gaan aan nie? 2022 het net te vinnig verbygegaan.
Een dag kraak my nuwe dagboek nog en die volgende oomblik toe is die blaaie amper klaar. G’n mens hou by nie. Ek begin wonder of Vader Tyd nie dalk ‘n probleem het nie.
Miskien moet julle ingryp. Ek meen die dae en weke vlieg verby, maar dan tref mens beurtkrag van 16:00 tot 20:00 en skielik staan alles stil.
Jinne Vader Krismis, om vir vier ure by kerslig te sit is glad nie so romanties soos wat mens dink nie. Veral nie as jy die ure om wens saam met ‘n dikbek papegaai en drie pekinesies nie.
Maar ja, so gaan dit mos maar in die ou RS van A. Ek weet nie eens of dit sal help as ek vra dat jy ekstra steenkool vir die ooms en anties aan bewind by Eskom aflewer nie. Daar is altyd ‘n verskoning of ‘n absurde rede hoekom ons weer in die duister sit.
En nou het die oom van Eskom ook nog bedank. Hygend hert, dit klink vir my maar na ‘n grootskaalse… ehhh ek mag nie die woord skryf nie. Net nou sit jy my op jou stout lys en ek het geen behoefte aan steenkool in my Kerskous nie.
Petrol ja. Baie petrol, want genade Krismisvader, g’n mens kan dit meer bekostig nie! Die dat ons so sukkel om te spaar.
Net die president kan dit doen, maar siestog, die arme man het nie ‘n spaarbussie nie. Toe bank hy sy geld onder die bankkussings en nou is hy in die moeilikheid. Miskien moet jy vir hom ‘n outydse spaarvarkie bring vir Krismis.
Wat jy wel moet saambring as jy jou bokke die kant toe stuur, is sambrele en reënjasse, want hier is die wêreld aan die nat kant.
Bring ook ekstra skerp ligte want die straatligte werk al lankal nie meer nie en die slaggate kry mos kleintjies by die dag.
Maar ons kla nie, ons is dankbaar. Baie dankbaar as mens by die huis kom sonder om ‘n band te verloor.
Ten minste dra ons nie meer maskers soos verlede jaar die tyd nie. 2022 was ‘n snaakse jaar.
Baie besig en almal wat probeer maak of ons okay is na die chaotiese 2020 en 2021. Niemand is nie, maar almal werk hard om dit weg te steek.
Darem het die jaar ook sy hoogtepunte gehad. As ek nou reg onthou het die Springbokke ‘n paar wedstryde gewen. Ons praat nie oor die wat verloor is nie, want dis erger as politiek.
Ons kon selfs van die wedstryde op teevee sien. Dit was nou wanneer daar nie beurtkrag was nie.
Een van die lekkerste lekkerstes van die jaar was dat Vaalweekblad vir ‘n tweede jaar in ‘n ry as k’rant van die jaar aangewys is. Verder is alles net politiek en ek praat nooit politiek nie.
Stuur groete vir die Tooth Fairy en die Paashaas en vlieg veilig.
Onthou wanneer dit lyk asof daar ‘n klomp mense in die RS van A sing en dans in die straat, is dit nie ‘n straatpartytjie nie. Dis ‘n opstand. Moenie eens glimlag en waai nie, vlieg net weg.
Jy hoef niks vir my te bring vir Krismis nie, ek het die jaar al baie persente gekry in die vorm van mense, bekers en goeie dinge.
Groete
Jou Vriendin uit die RS van A

Ns. Liewe Vader Krismis, die onnosele joernalis het al weer vergeet van my lysie. Bring asb baie droëwors, hoender en nogmaals hoender vir my.
Ek sal miskien met Her Royal Naughtyness Heidi en Baba Bessie deel, miskien nie. Ek was soet die jaar, maak nie saak wat die joernalis geskryf het nie. Sy oordryf altyd.
Baie pekinese soene – Kleinsus Antjie. xxx
