Nege dood, talle beseer toe vragmotor wat gas vervoer brug tref en ontplof
Minstens nege mense is dood en talle beseer toe ’n vragmotor wat gas vervoer op Oukersdag (24 Desember 2022) in Boksburg ontplof het.
BOKSBURG. – Die ongeluk het in Railwaystraat in Boksburg gebeur toe die vragmotor vermoedelik met ‘n lae bruggie gebots het.
“Vanoggend is nege mense dood en talle beseer toe ‘n vragmotor wat gas vervoer in Railwaystraat in Boksburg ontplof het. ER24 en verskeie ander nooddienste is na die toneel ontbied. Met aan koms het nooddienswerkers die smeulende vragmotor onder ’n lae bruggie aangetref met talle liggame wat op die grond naby die ongelukstoneel gelê het,” lui ’n uittreksel uit ER24 se verklaring.
Volgens ER24 het die provinsiale brandweer begin om die vuur te blus terwyl paramedici die beseerdes behandel het. Altesaam sewe mense het noodlottige beserings in die ontploffing opgedoen. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Volgens ER24 is ongeveer 40 mense op die toneel behandel, talle van hulle in ’n kritieke toestand.
Die pasiënte het behandeling op die toneel ontvang en is na hospitale geneem vir verdere sorg.
Twee van die beseerdes het later in die hospital aan beserings beswyk.
Talle geboue insluitend ‘n hospital is tydens die ontploffing beskadig.

Simon Lapping, ‘n raadslid van Ekurhuleni, sê daar moet ‘n ernstige ondersoek kom oor hoe ’n vragmotor wat brandstof vervoer met ’n lae brug kon gebots het aangesien vragmotors onder normale omstandighede nie toegelaat word om onder sulke brûe deur te ry nie.
Lapping het die toneel as een van verwoesting beskryf.
“Ek het nog nooit so iets gesie nie. Ek kan glo dat sulke trauma die dag voor Kersfees kan geur nie,” het Lapping gesê.

