Vrot, stink Kersfees vir Leeuhof se inwoners
Inwoners van Leeuhof staar ’n vrot, stink en onaangename Kersdag in die gesig. Riool stoot in hulle erwe op, maar die plaaslike munipaliteit gee skynbaar nie ’n blou duit om oor die probleme wat hulle rondom die feestyd ervaar nie.
VEREENIGING. – Quéléne Oosthuizen, ’n inwoner van Turtlestraat in Leeuhof, sê die probleem is dat die hoofdrein naby haar huis verstop is. Dit veroorsaak dat riool in inwoners se erwe in opstoot.
Die probleem is glo al male sonder tal by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld, maar niks word eenvoudig gedoen nie.
Volgens Oosthuizen het die munisipaliteit gesê hulle sal die dreine voor Kersfees kom skoonmaak maar nooit by Leeuhof uitgekom nie.
“Toe ons weer hulle kontak toe is hulle fone af en hulle antwoord net eenvoudig nie hulle fone nie,” vertel sy.
Ilze Botha, haar buurvrou, sê inwoners leef al die afgelope sewe jaar met rioolprobleme soos dié.

“Niemand help ons nie. Niemand wil ons help nie. Niemand kan ons help nie. Jy kan maar raadslede bel. Jy kan die burgemeester se kantoor bel. Jy kan maar by Emfuleni in die rye staan. Jy kan foto’s stuur. Jy kan video’s stuur. Daar word niks daaraan gedoen nie,” sê sy.
Volgens Botha word inwoners van die gebied gereeld siek. Die simptome wat hulle ervaar is volgens haar soortgelyk aan die simptome van cholera.
Botha stel voor dat die munisipaliteit rioolverwydering van inwoners se rekeninge afhaal aangesien die munisipaliteit nie eers hierdie basiese diens aan inwoners kan lewer nie.
Talle inwoners van die gebied moes self kanale in hul erwe grawe om riool uit hul erwe te kanaliseer, terwyl hulle maandeliks die munisipaliteit vir rioolverwydering moet betaal.

Haar buurman, Ishmael Tlali, sê hy kan nie eers die gras in sy erf sny nie aangesien dit net ‘n moeras van riool is.
Makhoshonke Sangweni, die waarnemende bestuurder vir bemarking en kommunikasie by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het voor Kersfees aan Vaalweekblad vertel dat die munisipaliteit nie van die probleem bewus was nie, maar dat Rand Water in elk geval die verantwoordelike agentskap is en d t die munisipaliteit se hande in dié geval afgekap is.
“Ons is nie bewus daarvan nie, maar RandWater is verantwoordelik om probleme rondom water- en rioollekke aan te spreek in terme van die Artikel 63-ingryping waarvolgens hulle tans optree as ons implimenterende agent,” het Sangweni in ‘n kort WhatsApp-boodskap aan Vaalweekblad geskryf.
Prudence Hlanyane, raadslid vir Leeuhof, meen egter, ten spyte van wat Sangweni aan Vaalweekblad sê, die munisipaliteit steeds verantwoordelik is.

“Die feit dat Rand Water tans in terme van die die Artikel 63-ingryping as die munisipaliteit se implementerende agent optree neem nie die kernverantwoordelikhede en funksies van die munisipaliteit af weg nie.
Volgens Hlanyane sien Rand Water tans na groter probleme – spesifiek probleme rondom infrastruktuur – om terwyl daar van die munisipaliteit verwag word om Kleiner probleme soos dié uit te sorteer.

