Die dag toe Chris sy kar – en byna sy lewe – verloor het
"Velle het van my hele lyf af gehang terwyl ek huis toe gehardloop het om hulp te ontbied," onthou Chris
Vereeniging het in 2022 sy 130ste bestaansjaar gevier en om dit te herdenk, het Vaalweekblad vanjaar teruggekyk na die nuusgebeure wat in die afgelolpe dekades hier afgespeel het. Hierdie berig is een daarvan…
In 1995 het Vaalweekblad ‘n jong korrektiewe beampte van Vereeniging ontmoet, pas nadat hy deur die grootste beproewing van sy lewe gegaan het. Chris Venter, toe 22, het daardie jaar ernstige brandwonde oor sy hele lyf opgedoen in ‘n fratsongeluk terwyl hy in sy pa se motorhuis aan sy kar gewerk het. Chris moes destyds sowat drie maande in die hospitaal deurbring.
Vaalweekblad het Chris nou weer na 27 jaar opgespoor om te hoor hoe dié skrikwekkende voorval sy lewe beïnvloed het.
Chris, nou 49 jaar oud, onthou die dag van die ongeluk steeds asof dit gister gebeur het. Hy het destyds by Korrektiewe Dienste in Boksburg gewerk. Dit was sy af naweek en hy het daarna uitgesien om by sy ouers in Vereeniging te kom kuier.
“Op pad huis toe het my voertuig begin probleme gee. Ek het by Midas in Voortrekkerstraat gestop en ‘n elektriese petrolpomp gekoop. Sukkel-sukkel ry ek toe tot by ons huis by Randwater, waar my pa gewerk het. Ek het sommer dadelik aan die werk gespring om die nuwe pomp te installeer.
“Ek het die kar op die ramps binne-in die garage ingetrek en ‘n spotlight voor in die garage op die vloer geposisioneer sodat dit onder die kar inskyn. Ek het begin deur die ou pomp los te maak en die nuwe so gou as moontlik in posisie te kry om nie onnodig brandstof te mors nie. Die brandstof het egter vinniger uitgeloop as wat ek besef het. Dit het oor my liggaam en oor die vloer tot by die lig geloop, waar ‘n kortsluiting plaasgevind het. Dit het die brandstof aan die brand laat slaan.
“Ek was steeds onder my voertuig, besig om die nuwe pomp te installeer. Hoewel ek ‘n roker is, het ek nie op daardie oomblik gerook nie, en was slegs geklee in ‘n kortbroek en plakkies. Ek onthou nog dat een van Cathy Viljoen se liedjies oor my karradio gespeel het. Ek het geskrik toe ek die vlamme sien en nie dadelik besef hoe die brand onstaan het nie, maar het onder die kar uitgerol en vir die naaste gras gehardloop om die vlamme oor my hele lyf te blus. Die skade was ongelukkig klaar gedoen. Velle het van my hele lyf af gehang terwyl ek huis toe gehardloop het om hulp te ontbied. Iemand het toe reeds die ambulans geskakel. Ek wou nog terughardloop om my beursie te gaan haal, maar kon nie naby gaan nie. Gelukkig was die brandweer en ambulans toe reeds daar.
“Abulanspersoneel het my op ‘n draagbaar vasgebind, gedistileerde water oor my lyf gegiet om die pyn te verlig, en met my na Vereeniging (nou Kopanong) hospitaal toe gejaag. Hulle het my onmiddellik begin behandel en my wonde skoongemaak. Ek het ‘n totaal van omtrent drie maande in die hospitaal aangesterk. Gelukkig het ons as Korrektiewe beamptes in daardie stadium nog 100% medies gehad en kon ek vir verdere behandeling gaan om die letsels te behandel, waaroor ek baie dankbaar was. Ek het ook behandeling by ‘n arbeidsterapeut in Sasolburg ontvang.
“Ek het daardie dag my voertuig en alles wat binne in was, verloor, maar gelukkig my lewe behou. Ek het nie versekering op die motor gehad nie en het die wrak later aan ‘n kleuterskool geskenk. Na 27 jaar is ek steeds gesond en is die Vader dankbaar dat my lewe daardie dag gespaar is. Ek het twee pragtige dogters, Chantelle en Veronica, en is al oupa van ‘n pragtige kleinseun Christo, wat almal in die Kaap woon. Ek kan steeds nie glo hoe vinnig die tyd gevlieg het en hoe vinnig ek herstel het nie. Praat van gelukkig en geseënd! Albei my ouers, nou 74 oud en 53 jaar getroud, lewe steeds en woon in Risiville. Alle eer aan God vir ‘n tweede kans op lewe en dat ons nog steeds ‘n voltallige familie van ses kinders met ons pa en ma is,” sê Chris.
Hy en sy vrou, Christine, woon nou in Pretoria maar hy werk hoofsaaklik in Ethiopië.



