Local newsNewsNews

Rugbykaptein oorleef elektriese skok van 33 000 volt

Ten spyte van alles was Charl steeds die sterk een wat sy ma vertroos en opgebeur het. Sy fyn sin vir humor het dit makliker gemaak om alles te verwerk, het sy ma gesê.

Vereeniging het in 2022 sy 130ste bestaanjaar gevier. Om dié mylpaal te herdenk, het Vaalweekblad vanjaar teruggekyk na interessante nuusgebeure wat deur die jare hier afgespeel het. Hierdie berig is een daarvan:

Toe Vaalweekblad se redaksiespan op 15 Mei 1990 die nuus kry dat ‘n gewilde 20-jarige leerling-elektrisiën van Vereeniging deur ‘n elektriese stroom van 33 000 volt geskok is, het ons met groot hartseer die ergste verwag. Groot was ons ongeloof en blydskap toe ons verneem dat hy dit oorleef het, hoewel hy baie erg beseer was en by die dood omgedraai het.

Die jong man was Charl Brandon, wat destyds ‘n bekende sportman en kaptein van Vereeniging se o.20-rugbyspan was.
Sowat ‘n jaar later, toe Charl in so ‘n mate herstel het dat hy oor die fratsongeluk kon praat, het hy vertel dat hy direk na die skokvoorval gedink het hy kry ‘n epileptiese aanval. “Al my spiere het saamgetrek en die geringste beweging het geweldige pyn veroorsaak,” het hy gesê. Hy het in die jaar na die fratsvoorval sowat 20 operasies en veloorplantings gehad en nog baie het voorgelê.

Na die ongeluk moes heelwat van sy liggaamsweefsel wat letterlik gaar gebrand is deur die elektrisiteit, verwyder word. Vel van sy bobene is gebruik om op sy arm en voete oor te plant. Sy regterarm is ook in een van talle operasies teen sy maag vasgewerk sodat die weefsel en vel van sy maag aan sy arm kon vasgroei en sodoende die enorme wond kon help genees. Hoewel die wonde mettertyd toegegroei het, het Charl die gebruik van sy regterhand in die ongeluk verloor en ook nie meer gevoel in die onderste deel van sy regterarm gehad nie. Albei sy groottone is geamputeer en hy het nie die volle gebruik van sy regtervoet behou nie. Met dié dat Charl se tone geamputeer is, was hy van balans af maar met maande se doelgerigte oefening kon hy homself leer om weer redelik goed oor die weg te kom.

Sy lewe het na die voorval soos handomkeer verander. “Ek het nou ‘n heeltemal ander lewe as voor die ongeluk. Dit het groot aanpassing geverg,” het hy destyds gesê.

Een van sy groot ideale, om ‘n elektrisiën te word, is weens die ongeluk verpletter. Toe hy uiteindelik kon teruggaan werk toe, kon hy net klerklike werk doen. Boonop moes hy, wat regshandig was, daarby aanpas om voortaan alle take met sy linkerhand te doen en ook met dié hand te leer skryf. Voor die ongeluk het hy graag gedans en op sy skaatsplank gery, maar net soos sy rugbydae was dit van toe af iets van die verlede.

Ondanks alles het hy groot dank gehad vir die mediese personeel, sy familie en vriende wat hom deur die beproewing bygestaan en ondersteun het.Vir Charl se ma, mev. Wanda Nelson, was dit baie moeilik om haar seun se pyn en lyding te aanskou maar sy was oneindig dankbaar dat sy lewe gespaar is. “Dokters het my gesê dit was net ‘n wonderwerk dat hy leef. Charl se arm, voete en been het na die ongeluk soos een groot stuk rou vleis gelyk. Die oggend van 15 Mei 1990 toe my kind werk toe is, was hy net ‘n seun, maar na die ongeluk was hy ‘n man. Net ‘n man kan sulke intense pyn deurstaan,” het sy destyds aan Vaalweekblad gesê.

Ten spyte van alles was Charl steeds die sterk een wat sy ma vertroos en opgebeur het. Sy fyn sin vir humor het dit makliker gemaak om alles te verwerk, het sy ma gesê.

* Vaalweekblad het probeer om Charl nou, 32 jaar later, weer op te spoor om te hoor hoe dit met hom gaan. Ons kon hom ongelukkig nie vir kommentaar bereik nie maar het verneem hy is intussen getroud en dat hy en sy gesin mettertyd die Vaaldriehoek verlaat het en nou in die Oos-Kaap woon.

 

Charl Brandon se regterhand, voet en been is grusaam verbrand toe 33 000 volt in 1990 deur sy liggaam geruk het. Die foto’s is in 1991, ‘n jaar na die ongeluk, geneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button