Verdagte vas na moord op 23-jarige by landgoed in De Deur
Die polisie sê hulle het 'n man in hegtenis geneem vir die moord op 'n 23-jarige man van die Lakeside-landgoed in De Deur op Oukersdag.

DE DEUR. – Volgens konst. Tlaleng Moloi, ‘n polisiewoordvoerder, het die oorledene en ooggetuies glo Saterdag (24 Desember 2022) omstreeks 10:00 buite ‘n huis in die Lakeside-landgoed gesit toe drie verdagtes in ‘n Silver Mercedes Viano by die toneel aangekom het.
“Twee van die verdagtes het uit die voertuig geklim en skote op die oorledene afgevuur,” vertel Moloi.
Die oorlede is raakgeskiet en het op die toneel aan beserings beswyk.
Die polisie het inligting opgevolg en een van die verdagtes later by die Black Stoep-taverne in Residensia in hegtenis geneem.
Volgens Moloi sal die verdagte binnekort in die hof in Vereeniging verskyn op ‘n aanklag van moord.
Die polisie is steeds op soek na twee van die verdagtes wat by die voorval betrokke was.
Mense wat inligting het wat tot die inhegtenisname van hierdie mans kan lei word versoek om die De Deur-polisie by 016 590 9200/9215 te skakel.
Lede van die publiek kan ook die polisie se Crime Stop nommer by 08600 10111 skakel, ‘n SMS aan 32211 stuur of die MySAPS-toepassing gebruik om inligting deur te gee.
Inligting word vertroulik hanteer.
