Skelms kom hul moses teë in middestad
Motoriste word tot vandag toe aangeraai om hul deure te sluit en vensters toe te hou as hulle in die middestad ry
Nog een van die opspraakwekkende nuusgebeure wat die afgelope jare in Vereeniging afgespeel het…
‘n Rower se opgewondenheid na ‘n ‘suksesvolle’ besigheidsroof in Vereeniging se middestad, was in Julie 2016 van korte duur toe hy ‘n paar minute later doodgeskiet is.
Kaptein Fikile Funda, woordvoerder van die polisie in die stad, het agterna gesê twee gewapende mans het die oggend ‘n sakeonderneming in Vereeniging se sakesentrum binnegegaan en aangedring op kontant. Hulle is toe met geld uit die kasregister, die eienaar se beursie en twee selfone daar weg.
Een van die verdagtes het in ‘n voertuig geklim en weggejaag, terwyl die ander een weggehardloop het. In Hofmeyrlaan het die een verdagte in die rigting van ‘n polisiebeampte, wat nie aan diens was nie, begin skiet. Die polisiebeampte het sy vuurwapen uitgehaal, teruggeskiet en die voortvlugtende verdagte agternagesit.
Die jaagtog het in Joubertstraat tot ‘n einde gekom toe die verdagte voor Vereeniging Mediclinic weens ‘n skietwond inmekaargesak het. Noodpersoneel van ER24 is na die toneel ontbied om die man te stabiliseer, maar hy het gesterf voordat hulle hom by die hospitaal kon kry.
* Dit was nie die enigste keer dat ‘n rower met sy lewe moes boet vir sy misdaad nie. ‘n Vermeende grypdief is op 22 Februarie 2019 in Merrimanlaan doodgeskiet nadat hy ‘n 79-jarige vrou probeer beroof het. Die man het glo halflyf by ‘n motor se oop venster ingehang terwyl die voertuig by ‘n rooi verkeerslig gewag het, en probeer om die vrou se hangertjie van haar nek af te ruk. Hy het die bejaarde dame in die proses ook gewurg.
Die vrou se dogter, wat die voertuig bestuur het, het haar vuurwapen uitgehaal en hom net daar doodgeskiet. Hoewel daar ‘n geregtelike doodsondersoek was, is die vrou nie vervolg nie.
Die polisie het daarna ‘n waarskuwing uitgereik dat mense wat die middestad besoek, nie juweliersware en ander waardevolle items openlik moet dra nie. Motoriste is ook aangeraai om hul deure te sluit en vensters toe te hou.

