‘n Spesiale verjaardag wens ten bate van Basjan Kok
Nicoleen Harmse wil nie koek of geskenke vir haar verjaardag hê nie, net donasies vir Basjan Kok sodat hy vir 'n operasie kan gaan.
VANDERBIJLPARK. – Die UBee4forme NPO het in 2022 begin om fondse in te samel vir Basjan Kok.
Hy is ‘n student aan die NWU wat in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was aan die einde van 2021.

Ten spyte van sy beserings en kolostomiesakkie het hy verlede jaar voortgegaan om vir die universiteit te skitter op die hokkieveld en het hy verskeie hokkiespanne afgerig.
Basjan moet nou ‘n operasie ondergaan om sy kolostomie-sakkie te kan verwyder. Dis ‘n baie delikate operasie waaarna hy ten minste vyf dae in die intensiewe sorgeenheid sal moet aansterk. Die operasie beloop by die R250 000.
UBeeforme het alreeds R175 000 ingesamel en beplan nog verskeie projekte die jaar. Nicoleen Harmse, die nie-winsgewende organisasie se stigter, verjaar op 9 Januarie.
Sy het op Facebook en WhatsApp ‘n beroep op haar vriende en kennisse gedoen om hierdie jaar, in plaas van koek en geskenke vir haar te koop, eerder ‘n R47 donasie aan UBeeforme te maak. Teen 14:30 het die verjaardagdonasies al op R1 500 gestaan.
Die bankbesonderhede en skakels is op die aangehegte foto indien nog donasies gemaak wil word.
