Met ossewaens en donkiekarre bereik Oom Petrus die jong dorp
Oom Petrus was maar 'n skrale 7 jaar oud toe hy en sy gesin in 1926 sukkel-sukkel oor die Vaalrivier na Vereeniging getrek het
Deur die jare het dit Vaalweekblad se verslagspan groot plesier gegee om met Vereeniging se ouer inwoners te gesels en te hoor wat hulle alles van die stad se jong dae kon onthou. Een van hulle was oom Petrus Jordaan wat in 2013, op die ouderdom van 94, sy herinneringe met Vaalweekblad gedeel het.
Oom Petrus is in 1919 op ‘n plaas tussen Koppies en Vredefort gebore. Sy ouers het verneem dat daar goeie landbougrond in die vinnig-ontwikkelende dorpie, Vereeniging, was en in 1926 is hulle sak en pak met twee ossewaens, ‘n paar donkiekarre en hul vee daarheen. Oom Petrus, wat toe maar ‘n skrale 7 jaar oud was, kon onthou hoe hulle gesukkel het om oor die Vaalrivier te kom. Dit het hulle twee volle dae geneem om die rivier in die omgewing van die Barrage oor te steek! Uiteindelik kon hulle in hul nuwe tuiste in Vereeniging afsaal op ‘n plaas waar die Dick Fourie-stadion vandag staan.
Oom Petrus kon onthou dat Vereeniging se sakesentrum in daardie jare uit net ‘n paar klein winkeltjies bestaan het. Die hoofstraat, wat breed genoeg was dat ‘n ossewa en span osse gerieflik ‘n U-draai kon maak, was omsoom deur groot bloekombome. Die hoofstraat was destyds bekend as Main Road maar die naam het in 1938 met die groot Eeufees-ossewatrek na Voortrekkerstraat verander.
Die jong Petrus het sy skoolloopbaan by Laerskool Handhawer begin totdat hulle na ‘n plaas in Glen Donald, wat bekendgestaan het as Vuilbroek, getrek het. Daar het hy nog ‘n jaar of twee skoolgegaan en met standard ses agter sy naam (wat destyds ‘n gerekende kwalifikasie was) by ‘n klein onderneming begin werk. Hy was heel tevrede met die tien sjielings wat hy per week verdien het. As jong man is hy in Vereeniging se ou Klipkerk aangeneem en dit is ook waar hy en sy vrou, Rina, ewige trou aan mekaar beloof het.
Die 1930s en 1940s was moeilike en stormagtige jare. Eers was daar die groot droogte en depressie in die vroeë 1930s, wat almal in die land en ook in Vereeniging sleg getref het. Toe volg die Tweede Wêreldoorlog, met politieke bewustheid wat al meer by Afrikaners vlamgevat het. Onder die destydse Unie-bewind is daar van jong mans verwag om Jan Smuts se Rooi Eed af te lê, wat beteken het dat ‘n man hom daartoe moes verbind om in enige deel van Afrika saam met die Unie-weermag militêre diens te gaan doen. Oom Petrus het geweier om die eed te teken en het openlik gerebelleer. Kort voor lank was hy saam met ander rebelle in ‘n interneringskamp toegesluit.
Met sy vrylating het hy begin soek na ‘n beter-betalende werk en ‘n pos by Yskor gekry, waar hy tot met sy aftrede gewerk het. Tussendeur het hy ook verskeie huise in Vereeniging gebou, onder andere die huis in Drie Riviere waar Vaalweekblad die egpaar in 2013 besoek het. Die erf en bouwerk het hom in die 1970s net R9 500 uit die sak gejaag. Dit klink dalk mi, maar dit was ‘n stewige bedrag wat in vandag se geldwaarde sowat R800 000 sou wees.
Hoewel die egpaar groot verdriet beleef het nadat een van hul twee seuns in 1974 in ‘n motorongeluk omgekom het, kon hulle in 2013 terugkyk na ‘n vol en geseënde lewe. “Vereeniging was goed vir ons,” het hulle gesê.
Vaalweekblad het die Jordaans nou weer probeer opsoek om te hoor wat hulle van die hedendaagse Vereeniging dink, maar hul skoondogter, Vivienne Jordaan, het ons ingelig dat tannie Rina ongelukkig kort na ons besoek in 2013 oorlede is en oom Petrus twee jaar later.
Vaalweekblad bring vandag hulde aan ons stad se vroeë inwoners soos die Jordaans, wat deur die jare met eerlike, harde werk help bou het aan die karakter van Vereeniging.




