Local newsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Lees meer oor my hondsdolweek waar alles in volle vaart gebeur het, en ek 'n paar keer sleg tweede gekom het.

RUBRIEK. – Wag ek geduldig met my sonhoed en piekniekmandjie vir 2023 se stoomtrein. Gereed om die Nuwejaar rustig aan te vat.

Kry ek ‘n groot skok toe ‘n sneltrein stilhou en ek so vinnig moet opspring dat my piekniekmandjie agterweë gebly het en my ou strooihoed summier afgewaai het.

Skielik was ek omring deur spertye en ‘n malle gejaag na onderhoude en pogings om mense in die hande te kry vir onderhoude.

Net om my in die “probeer volgende week, ons is nog op verlof” boodskappe vas te loop.

As mens totaal onvoorbereid skielik in hoogste versnelling moet beweeg, gaan dinge skeefloop. Wel, vir my, want ek is mos van nature bietjie verstrooid en droomverlore.

Dag drie van my gejaag begin op ‘n rowwe noot. Ek onthou net betyds die Algemene SMS’e moet vroegoggend afgelaai en aangestuur word.

My eerste afspraak is 09:00. Sleutels al in die hand, roep Ma van buite af waar sy in die tuin doenig is, dat dit begin reën. Ek los alles en gaan red eers die wasgoed van die draad af.

Daarna spoed ek by die huis uit. Kamerasak oor die skouer, my hande vol met beursie en sleutels en al die klas van dinge.

Ek sluit die veiligheidshek oop en die volgende oomblik blits daar ‘n wit streep onder my voet deur. Kleinsus Antjie op volle vaart! Ek keer net betyds dat die ander twee nie haar voorbeeld volg nie.

Steeds met die kamerasak oor die skouer en goete in die hand, probeer ek vir Antjie vang. Dié is besig om baldadige sirkels oor die gras te hardloop en oral te loer waar Ma onlangs in die tuin gewerk het.

Ma staan voor die groot hek en probeer aan ‘n sakgrawer wat die bure se vullissakke deursoek verduidelik dat hy moet skuif, ek gaan uitry. Die man verstaan skielik nie Engels, Afrikaans of gebaretaal nie.

Antjie gaan staan stil om te kyk wat maak Ma. Ek dag dis nou my kans. Nog net een tree dan het ek haar. Maar nee, sy hardloop al weer vrolik in ‘n ander rigting.

G’n sprake van ‘n seer been vanoggend nie. Ek sukkel weer agter haar aan. Dink nie daaraan om enige iets neer te sit nie. Uiteindelik kry ek haar so met die een hand opgeskep en terug in die huis.

Ma het intussen die sakgrawer 30 cm na links geskuif gekry en ek kan uitry. Dit was eers toe ek by my bestemming, vier minute laat, opdaag en my sleutel in my broeksak wou bêre wat ek besef het ek het my kuitbroek agterstevoor aan! Gelukkig was my hemp lank.

Nog was dit einde niet. Die week het voortgesnel. Die artikels wat ek moet skryf het opgehoop. Ek beplan om Saterdagoggend te begin skryf. Vrydagaand is dit weer beurtkrag van 16:00-20:00.

Ai ja, 20:00 het gekom en gegaan. Teen 22:00 het ons opgegee. Die skottelgoed by kerslig gewas en gaan slaap.

Saterdagoggend het donker aangebreek. Bewolk. Koelerig. Geen elektrisiteit nie. Na my beker koffie, met die hulp van die gasplaat, gaan slaap ek en Kleinsus Antjie verder.

Vlak voor 10:00 is daar uiteindelik lig op die onderwerp. Ek gaan maak summier nog koffie.
Beplan om gou te gaan stort. Geen water nie!

Hulle werk aan die waterlek in die straat. Die water stroom nou al amper twee maande straat af en het al ‘n besonderse waterpoel voor ons erf gemaak.

Weet ek nie of ek moet bly wees daar word gewerk of kwaad omdat ek nie kan gaan stort nie.

Ma wil dorp toe. Net eers die bad vol boorgatwater maak sodat ons darem die nood kan verlig. Ek druk my hare soort van plat. Dié verlê ek mos elke nag, gryp beursie en sleutels en daar gaat ons.

Halfpad dag ek iets voel nie na wense as ek die pedale trap nie. Ek kyk af, vas in oorle Pa se paar oorgroot plakkies waarmee ek altyd by die huis rondslof!

“Moet ons omdraai,” vra Ma, toe ek haar die brokkie nuus meedeel. Ek dink aan die duur petrol en my kort geduld en sê: “Nee wat, vandag hoop ek maar net ek loop niemand bekend in die winkel raak nie.” Ek het nie, wel nie waarvan ek weet nie. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button