‘ELM het tot op hede nog geen amptelike afbetalingsooreenkoms met Eskom aangegaan nie’
Raadslid Gerda Senekal: VF Plus-raadslid van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het vanoggend in 'n media verklaring gesê dat ELM se finansiële verknorsing daartoe gelei het dat die munisipaliteit, Desember 2022, nie amptenare se bydraes vir hul mediese-, werkloosheidversekering- en pensioenfonds aan die betrokke instansies oorbetaal het nie.
Dit het gevolg nadat Eskom ʼn beslagleggingsbevel op Emfuleni se lopende bankrekening verkry het vir uitstaande kragskuld.
“Emfuleni het tot op hede nog geen amptelike afbetalingsooreenkoms met Eskom aangegaan nie en die energieverskaffer dreig nou om na 20 Januarie die munisipaliteit se roerende bates te verkoop,” lui die verklaring.
Die VF Plus voorspel dat indien die munisipaliteit voortgaan om Eskom te ignoreer, die moontlikheid bestaan dat amptenare en raadslede ook nie aan die einde van die maand salarisse sal ontvang nie.
“Die jarelange wanadministrasie van die munisipaliteit het die ANC nou ingehaal.
“Onder die ANC is Emfuleni in ʼn vervalle munisipaliteit omskep waar geen dienste gelewer word nie omdat daar geen toerusting of amptenare is om dienste te lewer nie”.
Rdl. Senekal voer aan dat die VF Plus by verskeie geleenthede die munisipaliteit en die Gautengse wetgewer gewaarsku het dat indien daar nie daadwerklik ingegryp word nie, die munisipaliteit maar sy deure kan sluit.
“Emfuleni se enigste redding is om die munisipaliteit uit die ANC se hande te neem en oor te gee aan ʼn politieke party of partye wat inwoners se belange eerste stel.
“Intussen word Emfuleni se inwoners gestraf vir die ANC-regering se onbevoegdheid en gebrek aan politieke om ʼn sukses van die munisipaliteit te maak,” het sy afgesluit.

