Toesteming om tier dood te skiet indien sy weer ‘n mens aanval
“Indien die tier 'n mens bestorm en aanval het ons ongelukkig die mandaat van die eienaar sowel as die polisie om die dier van kant te maak.”
WALKER’S FRUIT FARMS. – Só het Gresham Mandy van die Sektor 2 GPF Maandagoggend (16 Januarie 2023) aan Vaalweekblad gesê op die plek waar daar tans vir die tier gesoek word.
Lede van die polisie, GPF, vrywilligers, DBV en wildelewe spesialiste is tans op soek na die tierwyfie wat glo Vrydag (13 Januarie 2023) van haar eienaar, mnr. Rassie Erasmus, se kleinhoewe ontstnap het.
Blykbaar her die dier ontsnap toe kwaaddoeners ‘n draad om die omheinde kampie geknip het.
Erasmus kon nie vir kommentaar opgespoor word nie en volgens Mandy stel hy nie belang om met die media te praat nie.
Die agt jaar oue tierwyfie genaamd Sheeba het reeds twee honde en ‘n mens aangeval.
Die slagoffer, 39-jarige William Mokwena, sterk tans in ‘n hospitaal aan. Hy is glo nie te ernstig beseer nie.
Daar was teen vanoggend nog geen teken van die dier in die dig bebosde gebied waar daar na haar gesoek word nie.
Volgens Mandy is dit soos om vir ‘n speld in ‘n hooimied te soek.
Inwoners van Walkerville word gevra om die DBV by 083 292 5862 te skakel indien hulle die dier gewaar.
Mense kan ook vir Mark (van die plaaslike GPF) by 082 559 4158 of vir Steven (ook van die plaaslike GPF) by 073 170 4402 skakel of alternatiewelik die kontrolekamer by 016 360 7500 skakel.
Inwoners word ook gevra om weg te bly van die dier aangesien sy gevaarlik is.



