Bekende in eiendomskringe sterf kort voor Kersfees
Willie Rossouw sal ook onthou word vir sy jarelange betrokkenheid by die Hoërskool Transvalia se jaarlikse sportdinee.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Jarelange inwoner van die dorp, mnr. Willie Rossouw, het kort voor Kersfees in die Netcare-hospitaal in Alberton beswyk nadat hy die afgelope jare verskeie gesondheidsterugslae beleef het.
Mnr. Rossouw, wat diep spore in Vaaldriehoekse eiendomkringe getrap het, was die laaste jare veral bekend vir die verskaffing van hoëgehalte private behuising aan studente van die Noordwes-Universiteit (Vaal) en die Vaaldriehoekse Universiteit van Tegnologie.
Hoewel hy ‘n paar jaar gelede nierkanker oorwin het, het hy tot met sy dood las van ‘n verswakte hart en verstopte are in sy bene gehad. Hy het vroeër verlede jaar ‘n hartaanval gehad, waarna verskeie operasies uitgevoer is om koronêre stents in te plaas. Hy is op 14 Desember weer in die hospitaal in Alberton opgeneem waar hy op 15 Desember ‘n operasie ondergaan het om die are in sy bene skoon te maak, maar het kort na die prosedure gesterf.
Willie het in Vanderbijlpark grootgeword en aan HTS Carel de Wet gematrikuleer voordat hy in die 1980’s sy suksesvolle sakeonderneming, Riviera Eiendomme, geopen het. Hy was ‘n kranige gholfspeler en groot rugbygeesdriftige wat bekend was vir sy vurige ondersteuning van die Goue Leeus. Hy was ook vir baie jare as voorsitter of in ander hoedanighede by die organisering van Hoërskool Transvalia se jaarlikse sportdinee betrokke.
Hy word oorleef deur sy vrou, Elize, seun Rhyno en kleindogter Caelyn, en sal deur sy geliefdes as ‘n toegewyde gesinsman onthou word.
“My pa was veral baie erg oor Caelyn en wou haar net elke dag sien of by hom gehad het. Sy was maar op die einde haar oupa se alles gewees,” sê Rhyno.
Mnr. Rossouw sou op 17 Februarie vanjaar sy 67ste verjaardag gevier het.



Wyle mnr. Willie Rossouw met sy kleindogter, Caelyn.

