Kobus Janse van Rensburg van ERPA veg vir beter dienslewering
Hy is bekend as Kobus van ERPA, maar hy is ook 'n sakeman met 'n groot liefde vir superfietse. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Hy is bekend as die voorsitter van die Emfuleni Ratepayers Association (ERPA).
Die man wat nie nee vir ‘n antwoord aanvaar nie, en onverpoosd voortbaklei om seker te maak die Vaaldriehoek se inwoners kry die dienslewering waarvoor betaal word.
Dis dié dat nie almal van Kobus Janse van Rensburg hou nie. Hy staan vir wat reg is en karring totdat ‘n probleem opgelos is.

Kobus sê hy wil dinge vir die gebied se inwoners makliker maak. Sedert ERPA in 2018 begin is, het hul al heelwat sake teen die munisipaliteit gewen en is daar al Telegramgroepe, ‘n webtuiste en ‘n Facebookblad waar inwoners kan aanklop vir raad en ondersteuning.
Op die webtuiste, www.erpa.co.za is daar ook ‘n hele dispuutstelsel op die been gebring waar inwoners gehelp word om ‘n dispuut vir, onder andere, probleme met hul munisipale rekeninge teen die munisipaliteit in te vul.
“Ons het ‘n span vrywilligers wat ons help om ERPA aan die gang te hou. Lidmaatskap is gratis, ons vra net donasies,” vertel Kobus trots.
Een van sy groot vriende, Klippies Kritzinger, beskryf Kobus as ‘n man met ‘n groot hart vir sy gemeenskap. “Hy is ‘n absoluut analitiese kreatiewe oplosgedrewe mens wat verskriklik baie tyd, veral na-ure, insit om te help.”
ERPA neem inderdaad baie van Kobus se tyd in beslag, maar hy het ook sy eie konstruksie maatskappy wat spesialiseer in huisoutomatisering.
Die maatskappy het hy op ‘n jong ouderdom oorgeneem nadat sy pa in 1997 oorlede is.
Kobus het in Vereeniging grootgeword en in die middel 80’s aan die HTS Vereeniging gematrikuleer. Nadat hy sy studies by die destydse Vaaldriehoek Technikon voltooi het, het hy hom permanent in Vanderbijlpark gevestig.

Hy is op 2 April 1994 met sy hart se punt, Christine getroud. ‘n Mens kan sommer hoor hy is baie lief vir sy vrou en vertel trots dat sy haar doktoraal in Menslike Hulpbronbestuur (HR) verwerf het.
Die egpaar het twee kinders. Hul dogter, Lica is tans besig met haar meestersgraad in mikrobiologie en analitiese wetenskap aan die NWU in Potchefstroom.
Hul seun, Kris het reeds sy studies in bestuur en bemarking voltooi en het sy eie besigheid wat elektriese motorfietse invoer.
Kris en Kobus deel ‘n liefde vir spoed en die twee ry bykans elke naweek hul superfietse by die groot bane van Kayalami tot by Swartkops. Kobus se blou oë vonkel vrolik as hy oor die superfietse begin praat.
Hy en Kris het albei opleiding in Italië ontvang en is tans alleen invoerders van die spesifieke elektriese spoedmasjiene.
“Ons het twee toetsfietse waarmee ons ry en laat gereeld ander bikers toetsritte neem. “Die motorfietse is baie stil op die oop pad en dit gee ‘n heel ander belewenis as op ‘n gewone motorfiets.
“Natuurlik, as mens hom oopmaak op die baan, dan klink die masjien soos ‘n vegvliegtuig wat verby blits,” beduie hy opgewonde.
Asof Kobus nie reeds besig genoeg is nie, het hy en sy seun nou ‘n derde besigheid begin om vesel installasies te doen. Die man glo duidelik nie aan stilsit en niks doen nie.
“Geduld was ook nooit my sterkpunt nie,” erken hy met ‘n glimlag, “maar vandat ek by ERPA betrokke is, moes ek vinnig geduld aanleer.”
Hy wens net meer mense wil betrokke raak, want dit is al manier hoe daar weer beter dienslewering in Emfuleni sal wees.
