Local newsNewsNews

Delikate operasie om straatkat se lewe te red

VANDERBIJLPAK. - Die eertse keer toe ek die pragtige spierwit katjie in ons erf gewaar het, het sy verwilderd teen die sesvoet muur vasgespring in haar poging om te vlug. Daardie dag het ek net omgedraai en weggestap, want ek het besef dat sy doodbang was vir mense - en wie kon haar kwalik neem? Mense kan soms so wreed wees.

Ek deel graag die verhaal van ‘n feral katjie wat net soos enige ander kat die beste sorg verdien het om haar lewe te spaar.

Mammatjie kat soos ons haar noem, was dalk vir die eerste paar jaar van haar lewe ‘n straatkat, maar nadat ek die afgelope vyf jaar vir haar gesorg het, was sy in my oë nie meer net ‘n straatkat nie.

So het dit begin:

Seker so drie maande nadat ek die wit katjie daardie dag gewaar het, was ek verras toe ek in die agtererf loop en twee klein bolletjies wol hul verskyning tussen die plante maak. Dit was die mooi wit kat se kleintjies … en so het Mammatjie haar naam gekry.

Die twee bolletjies wol het ook name gekry: Ziggy (‘n grys en wit katjie) en Snow Patrol (spierwit soos sy mamma). Laasgenoemde word meestal sommer net Snowy genoem.

Ek het dadelik werk daarvan gemaak om Mammatjie te vang en te laat steriliseer, en dit was ook die kleintjies se voorland toe hul oud genoeg was. Drie Riviere Dierekliniek se Feral-program het hier ‘n groot rol gespeel. Deel van die program is dat die katte wat gesteriliseer is, se een oortjie geknip word (net die puntjie).

Mammatjie voor haar oortjie begin probleme gee het. Foto’s: Elsje Vermeulen

Die jare het verby gestap en my liefde vir die katjies het net meer geword. Hulle vertrou my nou na al die jare, maar is steeds nie mak genoeg om op te tel of te vryf nie … maar hulle is my katte.

In Julie verlede jaar het ek ‘n klein seertjie op Mammatjie se oortjie, die een wat nie geknip was nie, gemerk. Teen September was dit duidelik dat dit ‘n soort kanker op haar oortjie was.

Dit was weer tyd dat ek vanghokkies huur in die poging om Mammatjie te vang. Maar nou was sy baie slim en het nie eers naby die vanghokkies gegaan nie. Nog ‘n maand later en die seer op haar oortjie het so erg geword dat dit begin bloei het. Ek praat nie van ‘n paar druppels bloed nie, die bloed het met tye teen haar gesiggie afgestroom.

Wanneer die oor so gebloei het, het ek skoon verbouereerd geraak. Ek was moedeloos en dit het gevoel of ek haar faal omdat ek haar nie kon vang nie. Maar aanhouer wen, en toe ek haar uiteindelik in Desember vang, is ek reguit met haar veearts toe.

Toe die veearts vra of hy die feral moet uitsit of behandel, was my antwoord vinning: doen enigiets om haar te red (want sommer net uitsit is nie ‘n opsie nie). En die veearts, dr. Kobus Kok van die Driehoek Dierekliniek, het uitstekende werk gedoen.

|Arme Mammatjie het wel beroerd gelyk na die operasie. Die hare was afgeskeer rondom die oor en die koppie het skoon skeef gelyk weens die oortjie wat geamputeer is, maar sy het gelewe.

Mammatjie sowat twee dae nadat haar
oortjie geamputeer is.

Ek was bly die operasie was iets van die verlede, maar die volgende dag was Mammatjie skoonveld. Sy het nie met etenstye soos altyd voor die agterdeur gewag nie en ek het die ergste gedink.

Maar twee dae later was Mammatjie skielik weer daar voor die agterdeur en stap sommer vinnig nader toe sy die kos sien. My hart was verheug. Die delikate, duur operasie was elke sent werd.

Mammatjie is nou weer haar ou self en geniet die lewe soos voorheen.

* In totaal is daar nou 7 feral katjies wat hul tuiste hier in my agtererf, waar hul veilig in hul eie vertrek kan leef en slaap, gevind het. Daar is dus nog ses verhale wat ek graag sou wou deel, want elkeen van dié katjies het hul eie karakter wat my ure se genot verskaf.

Bo en onder: Die foto’s is in Januarie geneem. Mammatjie is weer haar ou self, geamputeerde
oortjie en al.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button